Barack Obama, president van die VSA, het Woensdag die dood van vier Amerikaners, wat die Amerikaanse ambassadeur insluit, ná ‘n aanval op sy land se konsulaat in die Libiese hoofstad Benghazi, veroordeel.Die Amerikaanse leier het hulde gebring aan die ambassadeur, Chris Stevens, en sy kollegas wat dood is toe ‘n groep Libiese betogers op die Amerikaanse konsulaat toegesak het.
Die groep het saamgekom uit protes teen ‘n rolprent wat glo beledigend is teenoor Islam.
“Ek wil die aanval op ons diplomatieke fasiliteit in Benghazi, wat die lewe van vier Amerikaners, insluitend die ambassadeur, Chris Stevens, geëis het, ten sterkste veroordeel,” het Obama in ‘n verklaring deur die Withuis gesê.
“Amerika hou die gesinne van diegene wat ons verloor het in ons gedagtes en gebede,” het hy gesê.
“Hulle was ‘n voorbeeld van Amerika se verbintenis tot vryheid, geregtigheid en vennootskap met lande en mense oor die wêreld heen, en staan in skrille kontras met dié wat hul lewens geneem het.
“Ek het my administrasie aangesê om al die nodige hulpbronne te verskaf om die sekuriteit van ons personeel in Libië te verseker en om sekuriteit by ons diplomatieke missies oor die wêreld heen op te skerp,” het hy bygevoeg.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.