Die man se lyk is naby die gebied gevind waar stakende mynwerkers Dinsdag voor hulle optog na ‘n plaaslike hospitaal vergader het.
‘n Sapa-joernalis het glo ‘n foto van die lyk gesien wat diep snywonde aan die man se nek toon.
Die polisie en mynwerkers het Dinsdag by die Andrew Saffy-gedenkhospitaal byna slaags geraak.
Die stakers het knopkieries, pangas, gholfstokke en spiese by hulle gedra.
Loyiso Mtsheketshe, ‘n leier van die stakers, het gesê hulle wil die hospitaal dwing om nie meer beseerde mynwerkers in aanhouding te ontslaan nie.
Die stakers beweer dat die polisie die hospitaal dwing om hulle in te lig as ‘n beseerde mynwerker ontslaan word, sodat hulle die mynwerker in hegtenis kan neem.
Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (CCMA) het Dinsdag saam met verteenwoordigers van die stakers in Rustenburg vergader.
“‘n Vergadering tussen die CCMA en die verteenwoordigers van die mynwerkers is vandag gehou. In hierdie stadium kan ons nog nie bekend maak wat op die vergadering gebeur het nie,” het Nersan Govender, die CCMA se woordvoerder, gesê.
