Die politieke teregstelling van ‘n Brits-Irakse egpaar in die Franse Alpe, het ‘n woordevloed in die Britse pers veroorsaak nadat die Franse polisie aangekondig het dat die ondersoek na die moord op Saad en Iqbal al-Hilli (50) by die Annecy-meer naby die Switserse grens, na Italië en Switserland uitgebrei sal word.
Daar word vermoed dat die moordenaar dalk uit Frankryk na een van dié twee nabygeleë lande kon gevlug het.
Die moorde het groot opslae in Europa gemaak, veral omdat die egpaar se vierjarige dogtertjie vir agt uur lank onontdek gebly het. Die Franse polisie sê hulle meen die moorde was die werk van ‘n staat en nie ‘n enkeling nie.
In weerwil van talle berigte en wilde spekulasie, het Franse amptenare geen inligting verskaf oor die kaliber van die wapen wat gebruik is nie, en ook nie hoeveel skieters teenwoordig was nie. Hulle het slegs aangedui dat 25 doppies op die toneel opgetel is.
Eric Maillaud, die Franse staatsaanklaer, het die naweek op ‘n mediakonferensie gesê twee verskillende vuurwapens kon dalk gebruik gewees het, aangesien ‘n semi-outomatiese wapen slegs 15 skote kan afvuur.
Hy het gesê die antwoorde vir die motief van sluipmoorde sal waarskynlik in Brittanje gevind word. Die ander dogter wat die aanval oorleef het, sal in die teenwoordigheid van Britse amptenare ondervra word sodra haar toestand genoeg verbeter het.
Maillaud het eers gesê van die slagoffers het enkelkopskote gehad, en twee in die bors, en nie twee kopskote soos wat later berig is nie. Dit is duidelik dat die Franse owerhede ‘n sekere afstand wil handhaaf met die ondersoek.
Hierdie jongste gevolgtrekking volg uit die eerste reeks ballistiese toetse, maar moet nog uitgebrei en formeel bevestig word.
Laurent Fillion-Robin, 38, het gesê hy het die rooi BMW opgemerk, want dit het ‘n Britse nommerplaat gehad. Hy het gesê hy het nie enige geweerskote gehoor nie, en het gespekuleer dat die moordenaars ‘n wapen wat met ‘n knaldemper toegerus was, gebruik het.
Hy het ook gesê dis nie die soort kampeerplek waar Britse toeriste graag kuier nie, en dis hoofsaaklik Franse wat daar uitspan. Die polisie is ook op soek na ‘n donker viertrekvoertuig wat in die omgewing opgemerk is.
Sylvain Mollier, die fietsryer wat doodgekiet is, was in werklikheid ‘n kernmetallurgiese ingenieur wat gewerk het vir ‘n Franse kernmaatskappy genaamd Cezus (‘n filiaal van Areva). Cezus vervaardig onderdele vir kernbrandstofinstallasies.
Die slagoffers se BMW vertoon tekens op die agterbuffer van impak wat die sluipmoordtese verdere stukrag gee, aangesien dit blyk dat die motor waarskynlik tot stilstand gedwing is. Daar is ook remmerke op die teer.
In Brittanje het ‘n plofstofeenheid die huis van die oorledenes besoek, om enige “dubbelsinnigheid” uit die weg te ruim, het ‘n ingeligte bron aan AFP gesê. Toeskouers en inwoners het die gedoente as ‘n “sirkus” beskryf.
