“Die doel van die optog is ten eerste om die massamoord te veroordeel en om die onmiddellike vrylating van die werkers wat in hegtenis geneem is, te eis,” het Martin Jansen, die groep se woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.
Jansen het gesê die komitee wil ook ‘n onafhanklike ondersoek hê na die dood van die 34 Marikana-mynwerkers.
“Ons eis ‘n onafhanklike ondersoek na die msaasmoord wat ook die getuienis van werkers by al die myne en van die myngemeenskappe insluit,” het Jansen gesê.
“Die president kan nie aan dié eis gehoor gee nie,” het Mac Maharaj, woordvoerder vir die presidensie, in ‘n verklaring gesê.
“President Zuma sal nie by die werk van die Marikana-kommissie of enige ander prosesse inmeng nie, insluitend die vervolging van diegene wat met die tragedie verbind word.”
Die mynwerkers se regsverteenwoordigers, Maluleke, Msimang en Vennote, het Vrydag volgens berigte ‘n brief aan die president gestuur waarin hy gevra word om die werkers teen 13:00 Sondag vry te laat.
City Press het berig ‘n aansoek kan selfs by die hooggeregshof ingedien word om Zuma te dwing om die werkers vry te laat.
Maharaj het gesê die president sal die onafhanklikheid van alle instellings respekteer.
“Insluitend [die instellings] in die regsfeer, wat hulle verantwoordelikhede moet kan nakom sonder vrees, begunstiging of inmenging,” het hy gesê.
Die polisie het op 16 Augustus tydens ‘n betoging op ‘n heuwel naby Lonmin se Marikana-myn in die Noordwes op stakende mynwerkers geskiet. Altesaam 34 mynwerkers is in die botsing dood, en 78 gewond.
‘n Groep van 270 mynwerkers is in hegtenis geneem en ‘n aanklag van openbare geweld is teen hulle aanhangig gemaak.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Donderdag aangekondig dat die werkers ook tereg sal staan op aanklagte van moord vir die dood van hulle kollegas.
