Myburgh is lewenslank gevonnis nadat hy en ‘n mede-lid in 1996 net voor Kersfees twee bomme by ‘n supermark in Worcester geplant het wat die lewens van drie kinders en twee volwassenes geëis het. Nóg 67 mense is beseer in die ontploffing.
Hy het gister in die hof verskyn op aanklag van moord op Sanet de Wet (41), die vrou van Jan de Wet, ‘n mede AWB-lid.
De Wet is op 29 Augustus 1996 vermoor, terwyl haar man nie daar was nie. Myburgh en sy trawante was glo bang dat sy hulle sou verraai waar hulle vir die polisie geskuil het. Sy wou glo rook en het gekla dat sy nie sigarette in die hande kon kry nie.
Myburgh het De Wet se vrou vermoedelik met ‘n kussing in haar tent versmoor waar hulle op die plaas Erasmuskloof buite Hankey geskuil het nadat hulle aanvanklik uit die Diepkloof-gevangenis ontsnap het.
Hulle het aan haar man vertel dat sy aan haar hart oorlede is en sy is haastig in ‘n vlak graf op die plaas begrawe.
‘n Boer van die omgewing het vier maande later op haar lyk afgekom nadat vloedwaters die graf oopgespoel het.
