Almal wat betrokke was by die opbou na die skietery by Lonmin se Marikana-myn, is verantwoordelik vir die 34 mynwerkers se dood, skryf Cyril Ramaphosa, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), in die Sunday Times.
“Daar is baie min onskuldiges in hierdie tragiese saga. Diegene wat die grootste verlies gely het – die vroue, vriendinne en kinders van die oorledenes – dra die minste verantwoordelikheid vir wat gebeur het,” het hy gesê.
Ramaphosa meen almal dra ‘n mate van verantwoordelikheid vir die omstandighede wat die tragedie veroorsaak het.
Hy sê Lonmin se bestuur, sy raad en al sy aandeelhouers, die National Union of Mineworkers, die Association and Mineworkers and Construction Union, die polisie en die stakende mynwerkers is almal verantwoordelik vir die skietery.
