Nou hoor ‘n mens al die gekerm dat Mandela nie ‘n diktator is nie, maar ‘n vryheidsliewende demokraat. Maar sy nalatenskap begin baie soos ‘n diktatorskap lyk en daar in Noord-Korea het hulle al dieselfde sêgoed uitgedink om die honger massas op hulle plek te hou.
TB Joshua het reeds baie van die wêreld se gebeure voorspel, soos die dood van Michael Jackson, die bedanking van Pakistan se voormalige president Pervez Musharraf, en ook die opkoms van die huidige president van Ghana ‘n paar weke voor dit gebeur het. Of hy lees dalk die beter webwerwe op die internet.
“Ek sien ‘n hoof van die staat, deur wat ek bedoel ‘n president. Hy voel nie goed nie. Hy is baie oud. Wat is dit wat ek sien … skielike dood. Ek sien die dood van ‘n ou Afrikapresident oor twee maande.”
TB Joshua het baie Zimbabwiërs opgewonde gehad oor sy vergesigte. President Robert Mugabe is tans Suider-Afrika se oudste presidensiële heerser.
So gewild is TB Joshua dat baie Zimbabwiese politici insluitend Morgan Tsvangirai en ZANU-PF se Vroueligaleidster Orpha Rushesha, die afgelope maande na Nigerië is om daar kerk te hou.
Sonder sukses, vir Zim altans. In plaas daarvan, het Meles Zenawi onlangs die tydelike met die ewige verwissel en deel geword van die ontstellende lang lys Afrika-staatshoofde wat die afgelope paar jaar lepel in die dak gesteek het. Sy woordvoerder het hom dae voor sy afsterwe nog blakend gesond gesien. Zenawi is die vierde slagoffer hierdie jaar alleen, na Guinee-Bissau se Malam Bacai Sanha, Malawi se Bingu wa Mutharika en John Atta Mills van Ghana.
Zenawi se afsterwe het boonop Suid-Afrika se bande met Eritrieë versterk, aangesien dié land – wat bekendstaan as die Noord-Korea van die vasteland – nie veel vriende het nie. Die ambassadeur het dalk moetie kom soek teen die soort nare voorspellings wat daar uit Nigerië kom en wat sy buurman onverwags getref het.
Eens op ‘n tyd, het die hoop van ‘n kontinent op Zenawi se skouers gerus, voordat Mandela oorgeneem het en Mugabe al nader aan die druipsyfer op sý rapport gedaal het. Zenawi het aan bewind gekom in 1991, leier van ‘n rebellegroep wat die diktator Haile Mengistu Mariam, tot ‘n val gebring het. Hy het onmiddellik demokratiese en politieke hervormings geïmplementeer wat Washington se goedkeuring weggedra het.
Teen die middel-1990’s, was hy een van Bill Clinton se berugte “nuwe generasie” van Afrika-leiers, saam met ander belowende manne soos Eritrea se Jesaja Afwerki, Paul Kagame van Rwanda, Oeganda se Yoweri Museveni, en les bes Thabo Mbeki en Nelson Mandela, wat die vaandel van die kontinent hoog sou dra.
Dit was die manne wat die Afrika Renaissance sou lei. En is ons nie getrakteer op dié heropstanding nie! Media24 het die taak om gratis advertensie vir die bende te maak, so goed behartig, dat hulle self onder die invloed van die toormedisyne van die Anglikaanse biskop Tutu gekom het en oor reënboogkleure begin hallusineer het.
Dit was nie veel van ‘n renaissance nie, miljarde later. Skaars is die term geskep of Ethiopië en Eritrea spring aanmekaar in ‘n bloedige grensoorlog, Kagame stuur wapens na die DRK met geweldige sukses sodat agt lande mekaar pak, en Museveni spog met ‘n indrukwekkende reputasie vir korrupsie wat hy lewenslank voorsien. Julius Malema moes ‘n paar jaar wag om Mbeki se drome van swart oorheersing weer gestalte te gee, maar hier by ons was die donkie ook uit die stal.
Die Afrika-Renaissance, soos verteenwoordig deur Clinton se “nuwe generasie” Afrika-leiers, is dood, helaas. Moenie wag vir Media24 se begrafnisreëlings nie. Dit mag lank neem, want ontkenning is ‘n snaakse ding. Dalk is dit wat die Nigeriese “profeet” gesien het.
