Dene Smuts se antwoord op die slagting by Marikana, is ‘n heftige aanval op die Boeremag. Dis ‘n onnosele oefening in “race baiting”, soos die Amerikaners graag daarna verwys.
Iemand moet tog die beswaarde Smuts inlig dat haar ou voorvader dieselfde gedoen het gedurende die 1922-staking. Niks om op trots te wees nie. En haar daarop wys dat elke lid van die tragiese bende almal skuldig bevind is aan hoogverraad. Hoogverraad, Dene. Lees sy nie koerant nie?
“Die Boeremag het alles verraai waavoor demokratiese Suid-Afrika staan en alles wat Suid-Afrikaners vir mekaar beteken,” sê die DA se skaduminister van justisie en grondwetlike sake, Smuts. Sy en die ANC-LP Dan Maluleke, het saamgespan om hulle oor die kinders van die vrou wat in Soweto agv die Boeremag se bom dood is, te ontferm.
Ja, ons weet oordrywing is die manier om die DA se nuwe kiesers aan te hits. En ons weet wat die DA en die ANC vir mekaar beteken. Sonder hulle ideologie sou daar nie ‘n struggle of ‘n Black Sash of ‘n splinternuwe gewelddadige Suid-Afrika gewees het nie.
Die Boeremag se amateuragtig pogings tien jaar gelede om ‘n rasse-oorlog te aktiveer, onder aanmoediging en aktiewe bystand van die polisie natuurlik, is van dieselfde orde as Smuts se amateuragtige pogings om vir die ANC munt daaruit te slaan. Dat haar pogings eweneens afstuur op ‘n rasseoorlog kan seker nie voor die deur van die Boeremag gelê word nie, aangesien hulle die afgelope tien jaar agter tralies deurgebring het. Praat van ‘n regstaat en ‘n grondwetlike demokrasie! Tien jaar!
Daaroor sal Smuts swyg, net so hard soos oor Marikana. Dieselfde pogings deur die Duitse regering om naïewe mense te betrek by “regse” geweld is met minagting deur die Duitse howe verwerp, Dene.
Maar jou verbete jingo-arrogansie is seker so deur die Vrystaat gelouter, dat sulke belangrike internasionale regsaspekte jou nie opval nie.
Dat Smuts nog die Marikana-massamoord as agtergrond vir haar tirade – met die politieke plofkrag van kougom, bygesê – kies, is nog ‘n aanduiding dat sy en haar party alles in die stryd sal werp om die ANC se verslete aansien te red.
Twee jong Suid-Afrikaners het hul enigste ouer, Claurina Mokone, danksy die Boeremag verloor, sê Smuts, al snikkend deur haar krokodiltrane. Vir haar weeg dit klaarblyklik heelwat swaarder op as die honderde sterftes van mynwerkers wat jaarliks hul lewens in myne, ja myne, verloor. Om nie van die 44 broodwinners by Marikana te praat nie! Wat gaan van daardie kinders word?
Sy kan met rede begin bekommer oor “demokratiese” Suid-Afrika, want na die slagting gaan daar nog ‘n lang skadu oor die myne gekaats word. ‘n Internasionale een. Dit beteken die bestaansreg van haar party wat roofkapitaliste beskerm, gaan onder die loep kom.
Dene Smuts sal aanstons vind haar Vrystaatse SAP-mentaliteit gaan nie genoeg wees vir dít wat kom nie.
