‘n Siriese opposisie-amptenaar het erken dat die Britse intelligensiediens geheime ondersteuning aan rebelle in Sirië verleen, volgens die Britse Sunday Times.
Britse owerhede “weet en keur dit 100% goed” dat intelligensie van hul militêre basisse in Ciprus deur Turkye aan die rebelle van die Vrye Siriese Leër (VSL) deurgegee word, het die amptenaar gesê.
Die Verenigde Koninkryk besit twee militêre basisse op die eiland Ciprus, een by Dhekelia en ‘n ander op Akrotiri. Die basisse monitor plaaslike luggolwe en doen verslag aan die “GCHQ” (Government Communications Headquarters), Brittanje se nasionale elektroniese veiligheidsentrum in Cheltenham.
“Britse intelligensie doen waarneming van Ciprus. Dit is baie nuttig, want hulle vind baie uit,” het die amptenaar gesê. “Die Britte gee die inligting aan die Turke en die Amerikaners en ons kry dit van die Turke.”
Volgens die bron, was die mees waardevolle intelligensie oor die bewegings van troepe lojaal aan president Bashar al-Assad in die rigting van die stad van Aleppo, wat onlangs onder kwaai botsings tussen die regering en die rebelle deurgeloop het.
“Die Britte monitor kommunikasie oor die bewegings van die regeringsweermag en ons het inligting oor versterkings na Aleppo onderskep,” het die amptenaar aan die koerant gesê. “Ons het die regeringstroepe in Idlib en Saraqib [suidwes van Aleppo], met sukses aangeval.”
“Ons het troepe in ‘n lokval gelei en ‘n kolom van meer as 40 tenks in ‘n vallei naby Saraqib byna uitgewis,” het die amptenaar gesê. “Ons het baie van hulle vernietig met herhaalde met anti-tenk missielaanvalle.”
Die Duitse koerant Bild het ook Sondag aan die lig gebring dat Duitsland baie meer aktief in Sirië is as wat voorheen geglo is. Duitse spioene, gestasioneer op skepe langs die Siriese kus, help met die intelligensie-oordrag aan die rebelle in hul veldtog teen die regime van president Bashar al-Assad, het Bild berig.
Agente van Duitsland se Federale Intelligensie Diens (BND) is toegerus met hoë-tegnologie verkenningstegnologie, sodat hulle troepebewegings so ver binnelands as 600 kilometer (400 myl) kan waarneem. Die spioene gee hul bevindings aan die Amerikaanse en Britse offisiere deur, wat dan die intelligensie aan die rebelle deurgee, Bild gesê.
Die koerant beweer ook dat BND-agente tans werksaam is by ‘n NAVO-basis in Adana, Turkye, waar hulle oproepe en radioverkeer in Sirië afluister.
“Geen Westerse intelligensiediens het sulke goeie bronne binne Sirië soos Duitsland se BND nie”, het Bild ‘n naamlose Amerikaanse intelligensie-amptenaar aangehaal.
