G’n wiele teen veediewe nie, ondanks R80miljoen se begroting!. Veediewe kan in die Vrystaat steel en slag soos hulle wil want polisiebeamptes van die veediefstaleenhede sit, ondanks ‘n polisiebegroting van R80 miljoen, sonder voertuie agter hul lessenaars gestrand.
Só word in landbou- en polisiekringe gesê oor die voortslepende veediefstalprobleem in die provinsie. Die beswaardes sê die polisiebegroting word nie reg aangewend nie.
Weens die voertuigtekort meld talle boere nie eens meer veediefstalle by die 11 veediefstaleenhede aan nie.
Van die boere probeer nou maar alleen werk maak van die probleem. Onlangs is Johann Neethling (56), ‘n vooraanstaande veeboer en voorsitter van die Smithfield-boerevereniging, met messe toegetakel toe hy veediewe man-alleen wou keer om met ‘n klomp skape weg te ry.
