Nog rassegeweld teister Frankryk

Sowat 100 swart en Arabiese jeugdiges het deurnag op die Franse polisie losgebrand en motors en verskeie geboue in die noordelike stad Amiens aan die brand gesteek.

Een beampte is in ‘n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem, het die stad se Sosialistiese burgemeester Gilles Demailly aan Reuters gesê.

Inwoners het woedend gereageer nadat die polisie mense sonder waarskuwing gewelddadig deursoek het.

“Sestien polisiebeamptes is beseer,” het Thomas Lavielle, ‘n regeringsamptenaar, gesê.

Amiens is reeds geïdentifiseer as ‘n voorstad waar bykomende polisiemanne ontplooi moet word.

Rassespanning loop steeds hoog in Frankryk se voorstede, waar hoë werkloosheidsyfers, rassediskriminasie en swaar polisiëring hoogty vier.

In 2005, ná weke se betogings, het die Franse regering besluit om ‘n noodtoestand af te kondig.

Die dood van twee jeugdiges in 2007 het verdere geweld aangewakker. Geweld het ook in 2010 opgevlam nadat die polisie ‘n jeugdige wat ‘n casino beroof het, doodgeskiet het.

Tydens ‘n besoek aan die suidooste van Frankryk, het president Francois Hollande gesê die staat sal “al sy hulpbronne mobiliseer om hierdie geweld te bekamp”.

Hollande sê dis ‘n prioriteit om veiligheid in die volgende begroting met bykomende hulpbronne vir die die gendarmerie en die polisie te versterk.

Geboue, insluitende ‘n kleuterskool, en uitgebrande motors het nog gesmeul vroeg Dinsdagoggend, maar die strate was andersins kalm. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Hollande se minister van Binnelandse Sake, Manuel Valls, is na Amiens gestuur uit die suide van Frankryk waar hy op amptelike sake met Hollande gereis het.

“Die geweld teen die polisie, die geboue wat afgebrand is, hierdie mense wat leef in die greep van vrees – dit is onaanvaarbaar,” het Valls aan verslaggewers gesê.

Sommige linkse kritici sê sy taalgebruik toon ongemaklike ooreenkomste met die van die konserwatiewe Sarkozy.

Baie Franse stede sukkel met die integrasie van miljoene arm blankes, swartes en Noord-Afrikaanse immigrante in die hoofstroom van die samelewing waar hulle in vervalle behuisingskomplekse saamgebondel word.

Nota: Frankryk maak geen voorsiening vir etniese en kulturele minderhede nie, en lê groot klem op integrasie. Daar is byvoorbeeld nie soos in die VSA amptelike verwysings na “Afro-Franse”, “swartes” of “Arabiese taalgebruikers” nie.

Фильчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae