Na raming is ongeveer 200 000 ha weiveld in veldbrande in die Vrystaat verwoes. Honderde stuks vee, duisende hoenders en groot hoeveelhede wild is as gevolg van die veldbrande dood. Die skade wat die betrokke boere gely het as gevolg van die veldbrande is astronomies en ‘n groot slag vir landbou in die Vrystaat. Geen boer kan skade van hierdie aard finansieel oorleef nie.
In die lig daarvan het Oosthuizen namens die VF Plus ‘n beroep op die Vrystaatse Departement van Landbou gedoen om onmiddellik die omvang van die skade te bepaal en die betrokke gebiede as rampgebiede te verklaar sodat finansiële ondersteuning daar verleen kan word.
Oosthuizen het gesê daar word op provinsiale en nasionale vlak in die begrotings voorsiening gemaak vir onvoorsiene rampe soos hierdie en daarom is dit nodig dat die Vrystaatse Departement van Landbou prioriteit aan hierdie verdienstelike saak sal verleen.
