Die afgelope paar dae is daar ‘n meningspeiling op hierdie webblad aangaande die Boeremag aangebied. Dit wil voorkom asof die meerderheid deelnemers die Boeremag ondersteun, in weerwil daarvan dat een van die Boeremagleiers, dr. Lets Pretorius, meen dat die Boeremag eintlik deur ‘n ander groep – waarskynlik die Nasionale Inligtingsdiens – geskep is.
Die Russies-Joodse aktivis, Avigdor Eskin, het ook vandeesweek ‘n artikel op die Russiese staatsradio se webblad gepubliseer, Boeremag defendants: leftovers of apartheid or freedom fighters? Daarin vergelyk hy die Boeremagverhoor met die Rivoniaverhoor van Nelson Mandela en ander in die vroeë sestigerjare. Hy kom tot die gevolgtrekking dat, hoewel die buitewêreld simpatiek teenoor Mandela en die ANC was, gee die internasionale gemeenskap nie meer om “oor die lot van gewone Suid-Afrikaners nie – nóg wit nóg swart”.
Eskin beywer hom onvermoeid vir die Afrikanersaak in sowel Israel as Rusland. Nogtans wil ek hier met hom verskil. Dit mag wees dat min mense oorsee omgee vir die lot van gewone mense en hul regte wat daagliks vertrap word, maar Suid-Afrika is reeds dekades lank gewikkel in ‘n oorlog sonder einde. Die ANC was maar bloot pionne in hierdie oorlog, wat terug te voer is na die Tweede Vryheidsoorlog of Anglo-Boereoorlog toe die uitlanders en inheemse blankes gestry het om beheer oor die land se hulpbronne, waaronder grond maar veral minerale. Onlangs het daar ‘n insiggewende artikel op Politicsweb verskyn, The secret war against the Afrikaners, waarin Piet Swanepoel aantoon hoe Britse jingo’s eintlik die ANC befonds en beïnvloed het. Self wil ek nog ‘n boek skryf oor die rol van Trevor Huddleston en die Anglikaanse Kerk in die ondermyning en uiteindelike omverwerping van die vorige regering, wat veral natuurlik met die hulp van Swede geskied het.
Eintlik woed dieselfde oorlog steeds in Suid-Afrika wat ‘n honderd jaar gelede plaasgevind het. Die bewindsoorname deur die ANC in 1994 het dit geensins beëindig nie, want tans is dit, om Von Clausewitz te parafraseer, “oorlog met ander middele”. Die ANC gebruik sy politieke mag, wetgewing en die moordbendes wat plase en voorstedelike huise aanval, om sy doelwitte te bereik. Net soos in 1899-1902, was die uiteindelike doelwit altyd ‘n “finale oplossing vir die Afrikanerprobleem”: hetsy ons uitwissing, hetsy ons verdrywing uit die land.
Suid-Afrika verkeer steeds in ‘n oorlogstoestand. Ons sien dit in die graad van geweld en wetteloosheid wat heers, asook in die aard van die beserings wat slagoffers opdoen en wat beslis verskil van enige beserings wat mense in vredestyd oorkom.
Die punt is egter: die oorlog wat tans in die land heers, is ‘n sogenaamde lae-intensiteitskonflik (LIK). In die handboek van die Amerikaanse weermag word ‘n lae-intensiteitskonflik soos volg gedefinieer:
“Low intensity conflict is a political-military confrontation between contending states or groups below conventional war and above the routine, peaceful competition among states. It frequently involves protracted struggles of competing principles and ideologies. Low intensity conflict ranges from subversion to the use of armed force. It is waged by a combination of means, employing political, economic, informational, and military instruments.”
Dis ‘n definisie wat ‘n mens noukeurig moet lees. Natuurlik roep dit allerlei vrae op, soos: Wie is die “strydende state of groepe” in ons land? Wat is die “mededingende beginsels en ideologieë” in Suid-Afrika? Dit is egter voor die hand liggend dat ons vyande alle moontlike “politieke, ekonomiese, inligtings- en militêre instrumente” teen ons gebruik. Dink maar aan die arsenaal van rassewetgewing, die ondermyning van ons skole en universiteite, die gebruik van die SAUK en ander media vir intense propagandaveldtogte en ‘n inligtingsoorlog teen ons, ens.
Brittanje en dan veral die Britse Arbeidersparty, die Anglikaanse Kerk en Britse akademici, om nie van sekere koerante en die BBC te vergeet nie, verteenwoordig die staat wat steeds teen ons oorlog maak. Die ANC is bloot ‘n surrogaatmag wat sedert die vyftigerjare – kort ná die 1948-verkiesing – teen ons ontplooi is, op dieselfde manier as wat die ou Sowjetunie Kubaanse soldate Angola toe gestuur het. Die ANC-kaders is Brittanje se Kubane. En die ANC word natuurlik deur die Nguni-groep oorheers, die Xhosas en Zoeloes wat sedert die dae van die Grensoorloë op ons boere jag gemaak het.
Die mededingende beginsels en ideologieë in Suid-Afrika verteenwoordig breedweg die stryd tussen nasionalisme en imperialisme. In die Afrikanerpolitiek tydens die twintigste eeu het dit natuurlik in die Nat-Sap-geveg vertaal. In ons tyd is die tradisionele Britse imperialisme egter vervang deur multikulturalisme, “nie-rassigheid” en “globale samesyn ongeag taal, godsdiens of kultuur”. Tans word die produktiewe en intellektuele bydrae van Afrikaners, waaronder ons belastings, deur die ANC opgeëis wat dit dan by wyse van korrupsie, staatskontrakte en ander middele na Britse en ander multinasionale maatskappye herkanaliseer.
Die modus operandi verskil van dít wat in die negentiende eeu gegeld het, maar die uitwerking is dieselfde: ons word geplunder en ons vroue en kinders, asook oumense, word by die duisende doodgemaak.
Die nuwe imperialiste beheer nie ‘n land regstreeks met militêre besetting of vanuit die “Colonial Office” nie, maar onregstreeks. By wyse van wapenkontrakte, spesmagte of geheimedienste wat selektief die surrogaatmagte ondersteun en omkopery van politici, word ‘n soort neokoloniale orde in stand gehou. Die verbruikersmark verteenwoordig daardie “mensvleisbredie” waarvan Van Wyk Louw gepraat het, ‘n gedekultureerde, verdomde mensemassa aan wie ‘n hamburger of ‘n selfoon verkoop kan word en wat sodoende die dollars of veral ponde na die imperium laat vloei.
Iemand op Twitter het my ‘n paar dae gelede gevra wat ek van die Boeremagsaak dink. Ek moes doodeerlik antwoord dat ek “nie weet wat om daarvan te maak nie”. Maar ongeag al die intriges en feite wat in die getuienis na vore gekom het, loop daar vir my oënskynlik ‘n fatale denkfout deur die Boeremag se beplanning en optrede.
Alles wat ons tydens die Boeremagsaak gehoor en gelees het, dui daarop dat die aangeklaagdes se reaksie op die lae-intensiteitskonflik in ons land konvensioneel was. Hulle wou eensklaps die mag militêr of deur middel van ‘n staatsgreep “herower” en sodoende Afrikanerregering herstel. Op sigself ‘n edele ideaal, maar helaas nie sonder meer moontlik of selfs wenslik nie.
In elk geval het ek iewers gelees dat voormalige militêre mense nog nooit ‘n suksesvolle revolusie, waar ter wêreld ook al, kon uitvoer nie. Die soldaat dink volgens bepaalde reëls, asook oorsaak en gevolg, terwyl daar vir die revolusionêr geen reëls geld nie. Met militêre geweld wil die soldaat ‘n strategiese instelling of gebied beset of “oorneem”, terwyl die guerilla geweld bloot sien as “propaganda deur die daad”. Jare lank het die ANC slegs uit ‘n handjie vol mense bestaan, maar deur ‘n skouspelagtige terreurdaad soos die Kerkstraatbom het hulle hul mag sigbaar gedemonstreer en die ou Afrikanerstaat uitgedaag.
As ons dink aan “propaganda deur die daad”, het die groep onbekende aktiviste wat oranje, wit en blou vlaggies agter op verkeerstekens in die Noord-Transvaal geverf het of die Beyers Naudé-gedenkteken in Johannesburg eintlik meer vermag as die Boeremag. Deur hul simboliek van verset, hoewel vreedsaam, het hulle die wil tot weerstand getoon, publisiteit verkry en rebelse gevoelens by die Afrikanerbevolking aangewakker.
Boonop is daardie verwers, anders as die bomplanters, nooit gevang nie. Ek het op ‘n stadium probeer vasstel wie die verfwerk gedoen het, maar kon nie uitvind nie. Hul geheimhouding was foutloos. Hulle het nie konvensioneel militêr gedink nie, maar die beginsels van “oranje revolusie” of dan “oranje-blanje-blou revolusie” gevolg.
Te oordeel aan die reaksie op PRAAG se meningspeiling op die Boeremagsaak, het Afrikaners reeds daardie toestand bereik wat Mao “die vis in die water” genoem het. Ons bevolking is reeds dermate van die huidige bestel vervreem dat ons moontlik niks gaan doen om dit omver te werp nie, maar ons sal ook nie iemand gaan verklap of teenstaan wat dit probeer doen nie. Ons lojaliteit teenoor die ANC-staat is naby aan nul.
Danksy die beheer van die ANC oor die land se militêre hulpbronne, die pantser en outomatiese wapens, bevind ons onsself noodwendig in ‘n asimmetriese verhouding tot die vyand. Hy is sterk en ons is swak, ook vanweë ons onderlinge verdeeldheid, gebrek aan gemeenskaplike visie en ideologiese verwarring.
Gepraat van ideologiese verwarring. So ‘n week of wat gelede het daar ‘n artikel in Die Burger uit die pen van Dawie verskyn wat insgelyks op die Boeremagkwessie ingaan. Die Burger is natuurlik die stem van Groot Brittanje in Suid-Afrika, as’t ware die konsentrasiekampkommandant wat praat. Volgens Dawie is selfbeskikking vir die Afrikaner “gewoon laf en word deur regse ekstremiste gedryf”.
Die enigste oplossing vir die Afrikaner is om hom vir “kulturele vryheid binne die grondwet” te beywer. Aldus Die Burger. Daarvoor kan ons een en almal by Solidariteit en Afriforum aansluit en jare sit en wag vir die volgende hofdatum wanneer ons saak oor nog ‘n Afrikaanse skool wat oorgeneem en verengels word, gaan voorkom.
Dawie se gevolgtrekking is: “Bly streng geweldloos en binne die grense van die regstaat.” Dit is nogal ironies dat ‘n koerant soos Die Burger, wat so ‘n groot bewondering vir Nelson Mandela en die ANC koester, nie ook ‘n bewondering vir Mandela se idees het nie. Nelson het allermins geweldloos gebly en het ook nie die grense van die regstaat eerbiedig nie. Die Kerkstraatbom, oproepe via Radio Freedom vanuit Tanzanië om blanke burgerlikes voor die voet dood te maak, boikotte en finansiële sanksies, was alles deel van die Mandela en die ANC se stel wapens teen die ou regering.
Die Burger hou seker ook nie van die verf van naamborde of gedenktekens nie, want dit is ook onwettig. As jy nou Bram Fischer se naam gaan doodverf in Randburg, dan is jy nie meer “binne die grense van die regstaat nie”.
Ek vind dit nogal ironies dat Die Burger meen ons moet die wette wat deur die ANC gemaak word, so streng gehoorsaam. Want die ANC self voel hom nie, tans of veral in die verlede, gebonde aan wette nie. Sy kaders handel na goeddunke, totdat hulle “uitgevang” word. En as die howe hulle tot tronstraf vonnis, is daar altyd mediese parool.
Iewers skryf Machiavelli in Die Prins dat as jou opponent van bose middele gebruik maak, maar jy tree altyd goed op, gaan jy noodwendig die geveg verloor. Die ANC en die magte agter hom het al genoegsaam gedemonstreer dat dit vir hulle gaan om “die doel heilig die middele”. Sluipmoorde, terreur, halssnoermoorde, skending van menseregte, oproepe tot volksmoord, intimidasie, diefstal, bedrog, gewapende roof, dwelmhandel, enigiets is toelaatbaar solank dit hul strategiese doelwitte bevorder.
As ons enigiets uit die Boeremagsaak kan leer, is dit dat die maak van planne, selfs waar dit om selfverdediging gaan, te alle tye vermy moet word. Ek sou nie eers ‘n veiligheidsplan om my huis teen inbrekers te beskerm, op my rekenaar se hardeskyf aanhou nie. Blykbaar is die begroting van die Nasionale Inligtingsagentskap tot R6 miljard verhoog, waarvan ‘n groot deel waarskynlik gebruik word om Afrikaanse organisasies te infiltreer met agents provocateurs wat my en jou wil aanhits tot “hoogverraadplanne” totdat die ANC elke denkende Afrikaner in die land agter tralies het.
Gegewe die geskiedenis van Afrikanerverraad en die groot aantal staatsagente tussen ons, kan ons mekaar nie meer vertrou nie. Dit was ook ‘n kenmerk van die konflik in Noord-Ierland dat familielede mekaar naderhand nie meer kon vertrou nie omdat die Ierse Republikeinse Leër insgelyks deur die Britse geheimediens ingesypel is.
Aan die ander kant, soos ek hierbo gesê het, het ons reeds die vis-in-die-water-stadium bereik en sal die gewone Afrikaner wat nie ‘n betaalde amptenaar van die geheimediens is nie, waarskynlik niemand in kennis stel indien sy buurman ‘n klomp gewere in sy tuin begrawe nie.
Soos wat die staat in Suid-Afrika meer korrup word en die polisie en weermag onder beheer van misdaadsindikate en ANC-faksies kom wat geweld gebruik om hul mededingers uit te skakel, sal geweld noodwendig toeneem, selfs vanaf die huidige reeds kwalik houdbare vlakke.
Eintlik is die Afrikaner lankal reeds ingesluk deur die geweldspiraal. Die Burger droom as hy dink daar is duidelike grense tussen reg en verkeerd in Suid-Afrika of dat die regstaat eerbiedig kan word, veral waar dieselfde “regstaat” wette maak wat ons as lede van ‘n nasionale minderheid tot vyande verklaar en ons ekonomiese, kulturele en politieke kanse vernietig.
Die Afrikaner bevind hom toenemend, soos die titel van Alexander Strachan se boek oor die destydse grensoorlog lui, in ‘n Wêreld sonder grense.
Nes die lede van die Boeremag, gaan ander Afrikaners ook begin reageer op plaasmoorde, geweld en sistemiese diskriminasie soos wat die ANC sy “oorlog met ander middele” teen ons voortsit.
Afgesien van ‘n konvensionele militêre staatsgreep, is daar ‘n hele spyskaart van minder wettige en onwettige opsies waaroor ‘n mens in boeke en koerente, asook op die internet, lees: oranje revolusie, asimmetriese oorlogvoering, kuberoorlog, verbruikers- en belastingboikotte, sluipskutteraanvalle op politieke leiers, selfs biologiese en chemiese oorlogvoering. Daar is duisende Afrikaners wat as jagters, IT-deskundiges, mediese dokters of wetenskaplikes oor vaardighede beskik wat in so ‘n asimmetriese oorlog tussen ons en die ANC-staat aangewend kon word.
Persoonlik is ek nie bereid om die wet te oortree nie en staan ek geen onwettige optrede voor nie. In die sewentiger- en tagtigerjare, aangehits met Britse en Sweedse geld wat die land vrylik binnegestroom het, het vele skrywers en intellektuele in Suid-Afrika egter openlik revolusie gepredik en niks daarvan oorgekom nie. Hulle was natuurlik almal aan die ANC se kant, maar noudat die bordjies verhang is, kan ons seker ook tien of twintig persent van hulle militante metodes en idees begin ondersoek. Of ten minste daaroor spekuleer, soos wat ek hier doen.
Toe ons ‘n paar jaar gelede met Zuma gaan braaivleis hou het, het hy gesê dat die Boeremag-episode “‘n politieke oplossing vereis”, waarmee hy wou sê dat daar een of ander onderhandeling behoort plaas te vind om verdere optrede van dié aard te voorkom. Soos meermale met die ANC die geval is, was dit net ‘n klomp gepraat wat op niks uitgeloop het nie. Intussen het Zuma president geword en meen hy dat hy enige Afrikanerdissidensie met geweld kan onderdruk.
Anders as die ANC, beskik Afrikaners wel oor morele waardes. Dus kan ek kwalik sien dat ‘n Afrikanerdokter of -wetenskaplike op sy eentjie in sy garage begin cholera-kieme kweek om tydens die reënseisoen in ons land se spruite en riviere los te laat wat reeds weens munisipale korrupsie en onbevoegdheid met riool besmet is.
Maar in ‘n wêreld sonder grense soos wat Suid-Afrika geword het, is enigiets seker moontlik.
Die ANC, asook Naspers, Media24 en Die Burger, het alles in hul vermoë gedoen om Afrikanerleierskap en -instellings te vernietig of belaglik te maak. Die gevaar daarvan is egter dat daar niemand meer oorbly om mee te onderhandel indien die huidige lae-intensiteitskonflik verder sou eskaleer na iets nóg lelikers as wat dit reeds is nie.
