Die Republikeinse party in die VSA se langtermyn-toekoms lyk onseker. Romney se keuse vir sy vise-kandidaat, Paul Ryan, is ongetwyfeld ‘n verdere risiko vir die GOP. Dit beteken dat die verkiesing soos in die verlede, oor belastings sal handel, iets waarby president Obama net kan baat in dié moeilike ekonomiese tye.Belastingtoegewings mag op die oog af lyk na iets wat nie plofbare kwessies soos rasseverskille sal ophaal nie, maar aan die demografiese werklikheid van die VSA, gaan hierdie kandidate nie ontkom nie .
Romney, die miljardêr, het waarskynlik sy ongeërgdheid vir gewone, sukkelende mense beklemtoon met sy keuse omdat Ryan graag wil sien dat dienste aan armes – lees nie-blankes – opgeskort word. Maar Ryan se agenda sal beteken dat bejaardes – lees wittes – se toegang tot mediese sorg, kan sneuwel.
In die Goue Staat, Kalifornië, waar Nixon en Reagan eers koning gekraai het, het die party se registrasiesyfers gedaal tot 30 persent van die kiesers en is steeds besig om na benede te sink.
Daar word gesê dat Kalifornië se Republikeine uit voeling is omdat hulle sosiaal konserwatief oor kwessies soos aborsie en gay-regte is.
Maar die werklike probleem is ras, ouderdom en etnisiteit. En dit voorspel nie net die party se dood in Kalifornië nie, maar dalk sy lot in die res van Amerika.
Bykans 90 persent van al die Republikeinse kiesers in presidensiële verkiesings is wit. Byna 90 persent is Christene. Maar blankes het tot 74 persent van die kiesers in 2008 gedaal en slegs 64 persent van die bevolking. Onder die jeug is die persentasies nog veel kleiner.
Reken daarby dat die meerderheid wit vroue vir Obama stem, en die Republikeine se steun lyk nog minder seker.
Kennelik gaan die Republikeine staatsondersteuning vir “minderhede”, soos nie-blankes in die VSA heet, wegneem deur uitkerings en toegifte te besnoei en hulle hoop duidelik dat die wit kieser die onderliggende boodskap sal begryp.
Maar in hul beste jare, soos 2004, het die Republikeine die Latyns-Amerikaanse stem 3-teen-2 verloor. In ‘n slegte jaar, soos 2008, het hulle dit verloor 2-teen-1. Wittes is reeds ‘n minderheid in Kalifornië, en Spaanssprekendes sal uiteindelik die meerderheid wees. Net soos die bruines in Suid-Afrika, voel Spaanssprekendes soms swart en soms wit. As dit egter by die stembus kom, voel hulle beslis nie Republikeins en wit nie.
Swart Amerikaners verkies Obama met ‘n meerderheid van 24-teen-1. Die swart bevolking, 13% van die VSA, is steeds aan die groei. Blankes, wat ‘n minderheid in twee van die mees digsbevolkte deelstate is, sal minder as die helfte van die Amerikaanse bevolking teen 2041 wees en ‘n minderheid in 10 deelstate teen 2020.
Die meerderheid Latino’s, Afro-Amerikaners, immigrante en jongmense tussen 18-25 betaal geen inkomstebelasting nie, terwyl hulle ‘n arsenaal van voordele geniet. Dis kalkoene, nie-blankes, wat nie vir Kersfees gaan stem nie.
Die ou party, geïntimideer deur kritiek en aantygings van “rassisme”, weier om ‘n vloedgolf van immigrasie, meer as 40 miljoen mense wat baie afhanklik van die regering, aanstoot te gee.
Republikeine wat aanhoudend aangaan oor belastingbesnoeiings, het herhaaldelik gesorg dat miljoene belastingbetalers onthef word van bydraes, en ‘n groot klas geskep wat te min betaal vir die uitbreiding van die oorvloedige voordele wat hulle ontvang.
Die sosiale rewolusie van die 1960’s het veroorsaak dat Amerikaners wat ‘n geloof in geen godsdiens bely nie, verdriedubbel het sedert die 1990’s en nou een in vyf van hulle landgenote is.
Obama moes dié week Romney se keuse met ‘n glimlag aangehoor het…
