Die polisie het Dinsdag hul hande vol gehad toe ‘n skare oproeriges in Kagiso gewelddadig geraak het omdat ‘n sesjarige vroeër doodgery is.
Oproeriges waarmee die SABC onderhoude gevoer het, het gesê “hulle word doodgemaak”, en “ons kinders word doodgemaak”. Dit was egter nie duidelik wie verantwoordelik gehou word nie. Die kameraspan van die SABC is vir ‘n ruk as gyselaars aangehou om die polisie te dwing om van die aangehoudenes vry te laat.
Die geweld in Kagiso aan die Wes-Rand het ook gister die lewe van ‘n man geëis. Nog een is beseer.
Die oproeriges het deurpaaie met betonstukke en ander voorwerpe versper, buitebande aan die brand gesteek het en voertuie met klippe bestook. Paaie na die Chamdor-nywerheidsgebied en dele van Kagiso is gesluit.
Die man wat geskiet is, het volgens ooggetuies munisipale grond probeer aan die brand steek, berig Beeld. Hy is deur veiligheidsbeamptes doodgeskiet.
Ao. Solomon Sibiya het gesê die geweld het uitgebreek toe kinders Maandag deur ‘n voertuig by die Tudor Shaft-plakkerskamp in ‘n tref-en-trapongeluk raak gery is en een dood is.
