Julius Malema, voormalige leier van die ANC-jeugliga, glo dalk boere moet doodgemaak word, maar nie omdat hulle wit is nie. Vir wit Britte het hy baie tyd. Hy is baie vriendelik in Londen ontvang met aansienlike mediadekking. Hy het selfs sy ontvangs daar as “baie positief” beskryf.
Die Britte het betaal, sowat R255, om hom te hoor praat by die Royal Overseas League House Dinsdagaand, te midde van die grootste sportbyeenkoms ter wêreld in dieselfde stad.
Malema het tydens ‘n TV-onderhoud op Sky News selfs die Suid-Afrikaanse Olimpiese span se rassesamestelling verdedig om Britse beleggers te beïndruk met sy eie voorliefde vir “nie-rassigheid”.
Dat hy swartes tot die uitwissing van Afrikaners aanhits, was skynbaar nie ‘n probleem vir die Britte nie. Hy toer saam met Floyd Shivambu, sy voormalige ANC-jeugligawoordvoerder, deur Londen, om beleggers te oorreed om in Suid-Afrika te belê.
‘n Wit weldoener van Kaapstad het vir Malema se reis betaal. Die minister van sport, Fikile Mbalula, is glo saam met Shivambu in die geselskap van swaargewig rykes.
Die onderhoudvoerder van Sky het die stelling gemaak dat daar min “swart gesigte” in die Suid-Afrikaanse span is, gegewe die demografie.
Malema het egter die spankeuse verdedig. “Ons is ‘n nie-rassige land en almal in die Suid-Afrikaanse span het gekwalifiseer om deel te wees van die span en kan trots wees om die vlag te dra. Ons ondersteun hulle. Dit gaan nie oor velkleur nie,” het hy gesê.
Alhoewel dit vir Malema nie oor “velkleur” gaan nie, gaan dit beslis oor grond. Malema het grondonteiening sonder vergoeding weer verdedig gesê en “wette is nodig om dit moontlik te maak”. Die Grondwet maak egter reeds voorsiening vir onteiening sonder vergoeding.
Hy het gesê hy is deur Britse beleggers verwelkom. “Sodra ons met hulle praat, besef hulle dit wat hulle oor ons in die koerante lees en wat ons hulle sê, is twee verskillende goed.
“Ons vra nie om ‘n totale verbod op privaatbeleggings nie. Ons bring die minerale na die tafel, jy bring die geld en dan deel ons die hulpbronne.”
Malema het vroeër tydens ‘n onderhoud op BBC gesê sy skorsing uit die ANC sal “outomaties” verval as pres. Jacob Zuma in Desember sy ANC-presidentskap prysgee.
