Dlamini-Zuma hunker na die groen weivelde… van pan-Afrikanisme

Die ANC-vroueliga se byeenkoms in die Pretoriase Stadsaal is Sondag goed bygewoon: om te luister na die nuutverkose Afrika-uniekommissie se voorsitster, Nkosazana Dlamini-Zuma.

Die vloerplanke by die stadsaal het gesidder onder die gewig van dansende kamerade, en was ‘n tydige herinnering aan Dlamini-Zuma se eie gewildheid binne die ANC. 

Die adjunk-minister van ekonomiese ontwikkeling, Hlengiwe Mkhize, het gesê die Vroueliga het besluit om die geleentheid aan te bied om self van Dlamini-Zuma te verneem wat haar verkiesing tot die Afrika-Unie se hoogste pos beteken. “Ons wou van haar hoor in plaas van in die media daaroor lees,” het Mkhize gesê.

Die blye tyding was dat die nuwe voorsitter beslis Oos kyk.

Dlamini-Zuma het opgemerk dat die AU, benewens sy werk met lidlande, ook met die wêreld besig is. “Ons het forums soos die AU-China-forum, waar ons sien hoe ons met China tot die wedersydse voordeel van elk kan werk. Daar is ook ‘n AU-Indië-forum.”

Dlamini-Zuma meen haar pos sal ‘n kritieke toets van haar vermoë wees om groter outonomie op die vasteland van Afrika te handhaaf. In haar toespraak het sy erken dat die verhouding tussen die Afrika-Unie, China en Indië – die huidige koloniale magte – moeilik mag wees en dat swartes sal moet besin oor die befondsing van die Unie wat van hierdie lande afkomstig is. “Dit is goed vir nou, maar ek hoop met die tyd sal ons ‘n gelyke verhouding hê.”

Maw, die geld vloei tans, maar Afrika gaan nie noodwendig enige teenprestasie daarvoor lewer nie. ‘n Tydige waarskuwing vir lande wat stemme wou koop.

Dlamini-Zuma het voorts gewaarsku: “Ek sal werk as ‘n dienaar van swartes en nie van Suid-Afrika nie. As Suid-Afrika, moet ons onsself binne die pan-Afrikanisme situeer, en nie net in enge eiebelang optree nie.”

Dlamini-Zuma het dit duidelik gemaak dat haar visie sal wees om Afrika-politiek van die belange van die Weste te verlos, en in plaas daarvan te verseker dat swartes hul eie reaksies op die kontinent se uitdagings bepaal. Sy het ‘n groot deel van haar uur lange toespraak daaran gewy. “Ons het ‘n trotse geskiedenis, ‘n trotse erfenis, maar wat kon verkeerd geloop het?” het sy gevra.

Sy het dié retoriese vraag dadelik beantwoord en gesê dat sy glo ‘n groter mate van swart invloed die sleutel tot die ontwikkeling van die Afrika-kontinent oor die lang termyn sal wees. “Wat verkeerd gegaan het, is toe mense van die Weste begin het om swart mense as slawe te neem,” het sy gesê. “Dit het begin met slawerny, die gesondstes en sterkstes is tot die voordeel van die imperialistiese lande weggevoer. Diegene wat dit gedoen het, het gedink ons ​​was submenslik … En daarna kolonialisme, [waar] Europeërs Afrika opgekerf het op die manier waarop ons dit vandag sien … en onder mekaar uitgedeel het asof ons net fauna en flora is.

“Hul doel was om die kontinent en sy mense vir hul eie verryking te ontgin.”

Die onderliggende boodskap is dat Dlamini-Zuma sal veg om die geskiedenis van eienaarskap en die gevolglike armoede en onstabiliteit wat dit volgens haar meegebring het, reg te stel.

Die skynbare vrygewigheid van Frankryk om mbv hul weermag Afrika se probleme in byvoorbeeld Mali op te los, sal egter die nuwe voorsitter se visie tot die uiterste beproef. Dlamini-Zuma se filosofie van die handhawing van swart beheer teen die hegemonie van die voormalige koloniale magte en die VSA, gaan nie maklik wees nie.

Maar Suid-Afrika is reg vir die uitdaging. Konflik in Libië en die Ivoorkus het ‘n bitter na-smaak gelaat, maar Suid-Afrika het in Januarie ‘n resolusie geborg wat verseker dat die Veiligheidsraad nou sal saamwerk met plaaslike liggame – veral die Afrika-Unie. Dit is daarop gemik om te verseker dat die Weste nie meer Afrika-politiek so maklik sal kan beïnvloed nie. Wat die Ooste gaan regkry, sal die toekoms wel leer.

 

topcargo кидалы

Maak 'n opvolg-bydrae