Te midde van die groeiende geheimhouding rondom Suid-Afrika se kernenergieplan, is Greenpeace Afrika se aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) oor Suid-Afrika se kernkragstasieplanne deur die Departement van Energie geweier. Dié besluit ontken Suid-Afrikaners in hul basiese reg tot inligting wat ‘n invloed op hul toekoms sal uitoefen, sê die organisasie.
Interne regeringsdokumente in Greenpeace-Afrika se besit, dui daarop dat alle
partye wat betrokke is by die kernproses, soos die departement van Energie, Nasionale Kernreguleerder en Eskom, ‘n gebrek aan paraatheid oor ‘n wye reeks aspekte getoon het, wat wissel van tegniese kundigheid, menslike kapasiteit, strategiese besluite, en die bestuur van radioaktiewe afval.
PAIA is veronderstel dansky die Grondwet om die reg van toegang tot inligting ‘n werklikheid vir gewone burgers – en daardeur die beskerming van basiese menseregte en demokrasie – te maak. Die gereedheidsverslag moet openbaar gemaak word omdat dit in die belang van alle Suid-Afrikaners is om te weet of Suid-Afrika in staat is om ontwikkeling van 9600MW van kernenergie te onderneem, sê Greenpeace.
Volgens die departement bevat die verslag inligting wat sensitief is. Die departement het ook sy besluit om die Greenpeace-aansoek te verwerp op die basis geneem dat die inligting wat in die dokument vervat is, openbare veiligheid kan beïnvloed.
“Hierdie verskonings kom as geen verrassing nie want die kernsektor is bekend vir sy geheimhouding en die gebrek aan deursigtigheid,” sê Ferrial Adam, Greenpeace Africa se klimaat en energie kampvegter. Dit is belangrik dat die regering nie die wapentransaksie-debakel herhaal nie, sê Adam.
