“Verskeie berigte is ontvang oor planne om gemeenskappe te destabiliseer, infrastruktuur en dienslewering te saboteer om protesaksie in die Vrystaat in aanloop tot die konferensie aan te hits.”
Die ANC se verkiesingskonferensie word in Desember gehou.
Magashule het gesê geen skade aan infrastruktuur, ontwrigting van dienslewering of opvoeding sal geduld word nie.
Hy het reageer op betogings oor dienslewering in Vrystaatse dorpe en die stroping van winkels in townships wat buitelanders besit.
Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, het Woensdag gesê ANC-politici is nie bereig om gemeenskappe, wat ongelukkig is met hulle, te konfronteer nie. Die mees onlangse betogings in Marquard en Harrismith is voorbeeld hiervan. Jankielsohn het gesê swak dienslewering is steeds ‘n probleem en mense het geldige redes om ongelukkig te wees.
Die gebrek aan basiese dienste, politici en beamptes wat nie reageer nie en die gebrek aan optrede teen korrupsie is sommige van die kwessies wat kommer wek.
Jankielsohn het egter gesê baie van die onlangse betogings is waarskynlik polities gemotiveerd en hou verband met faksiegevegte binne die ANC self.
Magashule het op sy beurt gesê die betogings word aangehits deur diegene wat teen die ANC is en dat die “barbaarse, selfdienende en verwoestende gedrag geïdentifiseer is”.
Hy het gesê verskeie spanne van die regering help die munisipaliteite om probleme oor dienslewering aan te spreek.
“Ons het verskeie kere benadruk dat die plaaslike regering in die voorste linie van dienslewering is.”
Die premier het ‘n beroep op inwoners gedoen om nie betrokke te raak by aanhitsers wat regeringsprogramme en dienslewering wil saboteer nie.
“Mense en gemeenskappe in die Vrystaat, sowel as grondwetlike strukture van die ANC, moenie toelaat dat die pogings van die ANC-regering deur boewe en misdadigers ontspoor word nie.”
