“Gratis hoëronderwys gaan die land lam lê en arm landsburgers gaan die meeste daarvoor inboet. Mense sonder toegang tot universiteite gaan nie baat vind nie, dit sal alleen belastings verhoog. Die regering moet veel eerder aandag gee aan skemas soos NSFAS wat veronderstel is om behoeftige studente by te staan, maar nie effektief geïmplementeer word nie,” het Wouter Wessels, jeugleier van die VF Plus gesê.
Die feit dat universiteite jaarliks miljoene rande in ongebruikte fondse aan NSFAS (National Student’s Financial Assistance Scheme) teruggee met die verskoning dat daar nie genoeg studente is wat volgens die kriteria kwalifiseer daarvoor nie, bewys dat hierdie skema nie funksioneel aangewend word nie.
Wessels het ook gesê dat veeltaligheid ‘n belangrike faktor in die finansieringsmodel vir universiteite moet wees. Universiteite wat ‘n dubbel- of parallelmedium van onderrig het, moet addisionele fondse ontvang om hul in staat te stel om hiermee voort te gaan.
