Assad is die beskermheer van die land se godsdienstige minderhede – insluitende Christene en sy eie Alaoeïete Moslemsekte – teen buitelands-gesteunde Islamitiese ekstremiste.
Waarskuwings van ‘n bloedbad as Assad val, pla Christene, want hulle is verdryf deur sektariese geweld sedert die omverwerping van Irak en Egipte asook in die naburige Libanon.
Baie hier vrees wraakaanvalle teen minderhede, met die opkoms van wat hulle beskryf as ‘n nuwe diktatuur deur die Soenni-Moslem-meerderheid.
“As die regime gaan, kan jy vergeet van die Christene in Sirië,” sê ‘n 37-jarige tandarts. “Kyk wat gebeur het met die Christene in Irak. Hulle het oral gevlug, terwyl die meeste van die kerke aangeval en opgeblaas is.”
Bekommerde Christene hoef net na die stad Homs te kyk om te sien hoe ‘n burgeroorlog kan lyk. Daar was Soennies, Christene en die Alaoeïete, ‘n klein vertakking van Sjiïtiese Islam, slagoffers van grusame ontvoerings en moorde.
Die opkoms van Islamitiese partye in die post-rewolusionêre Egipte en Tunisië het die gevoel onder Sirië se Christene dat hulle onder beleg is, vererger.
Sommige vind die bevestiging van hul vrees in die betogings wat elke week na Moslems se Vrydaggebede plaasvind, as betogers landwyd godsdienstige en politieke slagspreuke dreunsing.
“Natuurlik is die ‘Arabiese Lente’ ‘n Islamitiese beweging,” sê die tandarts woedend. “Dit is vol ekstremiste Hulle wil ons land verwoes, en hulle noem dit ‘n ‘revolusie’.
Sirië se Christene, wat nie meer as 10% van die land se 22 miljoen mense verteenwoordig nie, spoor hul oorsprong twee millenniums terug na die begin van die geloof. Die apostel Paulus het tot bekering gekom op die pad na Damaskus, terwyl hy sy geloof oor die Romeinse Ryk wou verkondig.
