Kan Afrikaners Suid-Afrika herower?

Op ‘n stadium het ek en my vrou hier in Johannesburg taamlik gereeld gesprekke met swartmense met ANC-bande gevoer. Dis altyd interessant om te hoor wat hulle dink.

‘n Refrein wat ‘n mens gereeld by die meer junior en beter opgeleides onder hulle aangehoor het, was: “Ek is bevrees die blankes gaan weer die land oorneem. Ons mense is so hopeloos.”

Hiermee kan ‘n mens seker saamstem, want ‘n regering wat nie eens skoolboeke betyds kan aflewer of dorpe se rioolstelsels kan onderhou nie, kan onmoontlik vyf miljoen blankes – waarvan een miljoen reeds in die buiteland verkeer – in toom hou.

Natuurlik gaan ons nie vanself weer in die Uniegebou ingenooi word nie. En ek dink nie ons wil ooit weer apartheid terughê, tesame met die verantwoordelikheid om tienmiljoene swartes op te voed, te versorg, te administreer en alles wat daarmee saamhang nie. As daar een goeie ding is wat uit 1994 gekom het, is dit dat ons van Rudyard Kipling se “blanke las” bevry is. Wat my betref, kan die Transkei maar aanhou krepeer. Die vyf of ses miljoen Xhosas wat steeds daar woon, produseer seker so twee of drie persent van ons bruto nasionale produk – soveel soos ‘n paar voorstede in die PWV of die Wes-Kaap.

Wat die ou Grieke “hubris” genoem het, het al die ondergang van menige magtige leier of volk veroorsaak. Toe Hitler die oosfront teen Rusland geopen het, het hy sy doodsvonnis geteken. Dieselfde geld Napoleon, wat gedink het hy kan die hele Europa verower. Die Nguni-potentaat wat vanuit die Oos-Kaap of Kwazulu-Natal opgeruk het Pretoria toe om van daar af ‘n etniese suiweringsveldtog teen ons te voer, gaan insgelyks binnekort sy rieme styfloop.

“Diegene wat God wil vernietig, maak hy eers kranksinnig.” Dié ou klassieke spreuk is veral van toepassing op die transformasiebewind. Die planne wat nou op die tafel is, van radikale grondhervorming of grondgryp tot regstellende-aksieboetes wat die grootste SA maatskappye gaan knak, spreek van die grootheidswaan wat reeds van die swart heersersklas besit geneem het.

Terwyl hulle van een swart partytjie in ‘n vyfsterhotel na ‘n ander in hul ewe swart miljoenrandmotors voortsnel, smee hulle magsdronk planne om ons die finale nekslag toe te dien. Dis nou as hulle nie letterlik besope is nie, want al die Johnny Walker-grappies is nie sonder ‘n anker in die werklikheid nie.

Ek wil nog ‘n boek skryf om aan ons mense te verduidelik presies hoe die ANC hierdie land in 1994 verower het en watter sleutelrol Vader Trevor Huddleston en sy Anglikaanse Kerk daarin gespeel het. Hoe hy vir Mandela, Tambo en Tutu opgelei het. Hoe hy vir hulle geld en publisiteit gereël het, van Sophiatown se dae in die 1940s waar hy priester was tot 1986 toe hy persoonlik die Statebond oorreed het om sanksies teen ons land in te stel. Hoe Kanon Collins vanuit die Sint Paulus-katedraal in Londen ‘n geheime geldwassery-operasie vir die Defense and Aid Fund aan die gang gehou het en die fondse na Suid-Afrika gekanaliseer het om terreur en opstand hier te stook. In die dokumentasie van die Cillié-kommissie is selfs die bewyse begrawe dat die Anglikaanse kerk die organisasie, vervoer en pamflette verskaf het wat tot die Soweto-onluste van 1976 gelei het!

Maar dis alles geskiedenis. Kom ons bepaal ons by die hede en waarom die ANC se dobbelspel met radikale politiek dalk op sy ondergang en ‘n Afrikanerherrysenis kan veroorsaak.

Ons moet besef dat die ANC, daardie skepping van die Anglikaanse Kerk en die Britse Arbeidersparty, suiwer op propaganda staatgemaak het om ons land oor te neem. Natuurlik was daar terreur ook, met ‘n paar Hollanders, Vlaminge en die Sowjetunie wat logistieke steun verskaf het. Maar eers was daar die propaganda; toe het die lukrake, terroristiese geweld en intimidasie gekom.

Wie het die propagandaveldtog georkestreer? Weereens: Huddleston, asook ‘n ander Brit genaamd Anthony Sampson, wat deel van die Huddleston-kliek uit die Sophiatown-dae was en agterna die Afrika-korrespondent van die Londense Observer geword het. Die Observer het die histeriese gif teen Afrikaners versprei, en daarby het die BBC en die groot nuusagentskappe soos Reuters, Associated Press en Agence France Presse ingeval.

Vandag het Media24 en die SAUK die agterryers van daardie groot propaganda-oorlog van die twintigste eeu geword en versprei hulle die mites wat destyds deur Huddleston, Sampson, asook ‘n paar verdwaalde SA kommuniste in Londen uitgedink is.

Die koms van die internet het egter die greep van die tradisionele media op mense se denke finaal verbreek. Trouens, die internet is die vernaamste enkele faktor wat gaan veroorsaak dat hierdie hele orde binnekort in duie mag stort. Toe PRAAG twaalf jaar gelede met die stryd vir Afrikaans begin het, het die redakteur van Die Burger, Arrie Rossouw, ons uitgelag en probeer belaglik maak. Ook het mense soos Max du Preez, Christi van der Westhuizen, Leopold Scholtz en Media24 se ander werfbobbejane gereeld gekraai dat “die Afrikaner dood is”, dat “witheid” ons breindood gemaak het en dergelike meer.

Intussen het die PRAAG-webwerf, Facebook en Twitter al hoe meer veld gewen. Elke Afrikaner het ‘n rekenaar of slimfoon gekry. Daarmee is die sorvuldige denkbeheer wat Media24, die ANC en hul Londense meesters vir ons bedink het, tot niet gemaak. Vandag skryf en twiet ons self vir mekaar nuus oor plaasmoorde of munisipale korrupsie, sonder dat ‘n Britse quisling by Media24 dit eers versigtig filter en verdraai sodat dit die ANC se magsmonopolie kan ondersteun.

Hier by PRAAG sê ons aanmekaar vir mekaar: “Die mediamonopolie is erger as die magsmonopolie.” Media24 en Naspers se beheer oor die gedrukte media en betaaltelevisie in Afrikaans is veel nadeliger vir die Afrikaner se toekoms as die korrupte staatsamptenare wat die belastingbetaler se geld uitmors. Want Media24 se “grondwetters” soos Hermann Giliomee hulle genoem het, se enigste reaksie op plaasmoorde en diskriminasie jeens ons is om die wondere van die SA grondwet te besing. Veral verlam hulle ons mense met die apartheidsmite en wit skuld.

Sluit aan by PRAAG

Terwyl die ANC die staat, die universiteite, skole, die SAUK, die weermag en ander instellings beheer, is dit egter almal instellings wat feitlik negentiende-eeus, hiërargies, georganiseer is. Voor jy iets mag sê of doen, moet jy eers iewers toestemming vra. Of vergadering hou. Elke mens op die internet is egter ‘n outonome agent, amper soos die ou slagspreuk: “Elke Boer is sy eie generaal.” Elkeen voer die stryd soos hy goeddink. So word ons ‘n swerm, ‘n trop, ‘n skool visse wat almal in een rigting swem. Soos Eugène Marais gesê het, skep ons só ‘n nuwe, kollektiewe intelligensie. Ons word ‘n nuwe, globale organisme wat instinktief weet wie hom seermaak en kasty. ‘n Afrikanerbees of -dier! (In Nederlands beteken “bees” mos ook dier.) Teen daardie vyand word al die Afrikanerdier se energie gemonster. Die hoeveelheid energie wat reeds teen die ANC en sy meelopers soos Media24 hier op die internet gemonster word, is reeds skouspelagtig en veel groter as enigiets wat die staat onder PW Botha kon vermag. Een persoon met ‘n rekenaar, Facebook en Twitter kan vandag ‘n veel groter internasionale netwerk van mense onderhou as al die Suid-Afrikaanse ambassades in 1986 sáám.

En goddank: Ons word nie deur die Broederbond aangestel nie! Ons stel onsself aan. Deur ‘n Darwiniaanse proses of soos by ‘n uitspeelwedstryd by ‘n tennistoernooi, kom die bestes na vore… Hulle lei die swerm teen die logge, Afrostaat wat soos ‘n vetgedrinkte bosluis op Meintjieskop drome van nóg meer belastings, nóg meer bates om op te vreet, droom.

Hoe op aarde gaan die bosluis teen ons staande bly? Ons kommunikeer 24 uur met mekaar; hulle beantwoord nie hul telefone nie. Te belangrik, te ryk, te magtig, te selfvoldaan, te dronk… van mag of Johnny Walker Blue Label.

Kan u sien, liewe leser, hoe ongelyk die stryd éintlik is? Toe die ANC teen die ou NP-regering baklei het, of liewer toe die Kremlin en Trevor Huddleston hom as surrogaatmag téén ons gerig het, het die asimmetriese magsverhouding in sy guns getel. Soos oudgenl. Johan van der Merwe in sy boek opgemerk het, was die ou regering aan die Geneefse konvensie gebonde terwyl die ANC hom nie daaraan gesteur het nie. Soos elke terreurgroep het hy na hartelus bomme en myne geplant, asook gemoor. Maar nou is die bordjies verhang. Die ANC beset die staatsmag en bevind hom teen ‘n asimmetriese vyand, ‘n soort kuber-Afrikanerdom, ‘n etniese maaksel van die een-en-twintigste eeu. Soos Ari Onassis gesê het: daar is net een reël in die sakewêreld: daar is geen reëls nie.

Hoe meer chaos die ANC in die land veroorsaak, hoe beter vir ons. Anders as Europeërs en Amerikaners, gedy Afrikaners op chaos. Toe ons oor die Drakensberge gekom het, was daar nie eens ‘n waterput nie. Ons hóú van chaos, omdat ons pioniers is. Baie Afrikaners kan nie wag dat die ANC se tweede revolusie begin nie, want dan gaan die graad van chaos in die land eksponensieel verhoog. As die voedselskaarstes kom, sal ons weer blikkieskos opgaar. Of ons blomtuine in groentetuine omskep soos die Britte tydens die tweede wêreldoorlog gedoen het.

Baie mense – veral vroue – met wie ek op die internet en elders gesels, voel hier kom ‘n oorlog aan. Ons mans moet op vroulike intuïsie vertrou. Aan die ander kant: Dis ‘n ope vraag of die ANC ooit sy oorlog teen ons gestaak het. 1994 was net ‘n skietstilstand, ‘n bietjie konsolidasie alvorens hy dit met ander middele voortgesit het. Die tweede oorgang, die tweede revolusie moet nog kom. Want die krokodil is honger.

Vandat ons verlede jaar ‘n vergadering van Afrikaanse organisasies gereël het, behoort ek aan die sogenaamde Strategiese Komitee, oftewel SK. Van die ander organisasies het intussen scenario’s vir die onmiddellike toekoms uitgedink. In “Scenario 2” – ek kan nie mooi “Scenario 1” onthou nie – word die nasionale demokratiese revolusie deurgevoer, die grondwet word verander en soos dit gestel word: “Die RSA word stadig maar seker net nog ‘n Afrikastaat.”

Die onstabiliteit wat so ‘n situasie gaan skep, met voedseltekorte, ekonomiese agteruitgang, verhoogde werkloosheid, staatstoelaes aan vyftien miljoen mense wat moontlik nie meer uitbetaal gaan word nie, kan tot polarisering lei. Die huidige rassehaat wat daar reeds jeens blankes aangeblaas word, sal vererger.

Die ANC beskik oor 500 000 outomatiese wapens wat mnr. De Klerk aan Umkhonto we Sizwe oorgedra het, asook die pantser by Tempe op Bloemfontein. Blykbaar vlieg die Gripens nie en al die Mirages is verkwansel of weggegee aan ander Afrikalande. Die outomatiese wapens kan egter in die hande van ‘n jeugdige milisie – soortgelyk aan dié in ander Afrikalande – beland, wat kan besluit om die NDR met wapengeweld deur te voer.

Dis natuurlik ‘n resep vir grootskaalse etniese konflik, soos ons reeds in soveel Afrikalande waargeneem het waar minderheidsgroepe soos in Rwanda vervolg en uitgemoor is. In weerwil van die groot hoeveelheid privaatwapens wat die publiek onlangs by polisiestasies ingehandig het, beskik gewone Afrikaners seker steeds oor omtrent twee miljoen handwapens, jaggewere, .22’s, haelgewere en wat nog.

Scenario 2 sou dus maklik in ‘n soort Russies-Finse konflik oftewel die Winteroorlog uit die tweede wêreldoorlog kon ontaard. Aan die een kant die Rooi Leër met sy tenks en mortiere. Aan die ander kant skerpskutters wat in bome met jaggewere wegkruip en vyandelike offisiere doodskiet. Of politici… Dis interessant hoe die Amerikaners, daardie groot demokrate, tydens die tweede Irak-oorlog die verkose regering van daardie land tot militêre teiken verklaar het. Die totale BAAS-party (pikante naam, daardie) van Saddam Hoesein, wat in die negentig persent van Irakese stemme ontvang het, is deur die Amerikaners uitgewis. Toe hulle Saddam uiteindelik kry, het hulle hom opgehang. Dis hoe bewindsverandering oftewel “regime change” werk.

Anders as Amerikaners, is Afrikanerskerpskutters seker te ordentlik om ANC-politici voor die voet te begin doodskiet. ANC-ampsdraers is egter tans besig om hul volgelinge aan te hits tot een of ander vorm van geweld teen ons met liedjies soos “Kill a Boer, kill a farmer” of “Bring my my masjiengeweer”.

Nie net laat die ANC die plaaslike temperatuur aanhoudend styg nie, maar ook internasionaal klim dit al hoe hoër. Daar is soveel spanning en konflik in die Midde-Ooste. Om uit sy 14-triljoendollarskuld te kom, sal die Amerikaanse staat waarskynlik nog ‘n oorlog teen ‘n groter vyand as Afghanistan moet aanpak. Soos byvoorbeeld Iran. Romney kan die verkiesing wen en besluit dis tyd om Iran te gaan pakgee. As die ANC voel die wêreld se aandag is elders, kan hy dalk besluit om soos Mugabe die blankes finaal in die see te jaag.

Ook hier is die internet nogal verhelderend. Die hoeveelheid swartes op Twitter en elders wat vir my sê, “Julle moet dankbaar wees ons verdra julle nog in die land, ná wat julle ons aangedoen het,” is legio. Dis ironies, want Malema is geskors. Maar sy idees leef deesdae voort in die ANC. En in die harte van mense. Swart mense…

Die meeste Afrikaners het godvresend gebly, wat ‘n goeie ding is. Maar die NG Kerk, wat reeds in 1990 voor die Wêreldraad van Kerke begin kruip het, het hom as instrument vir die transformasiebewind beskikbaar gestel. Die gedoe rondom die Belhar-belydenis en ANC-propaganda vanaf die kansels het aanvanklik verwarring onder ons mense veroorsaak, maar intussen het almal nugterder begin raak.

Daar is egter vir my een ding wat erger as ‘n NG-predikant is en dit is ‘n kommunistiese NG-predikant. Telkens as ek in Johannesburg in DF Malanrylaan indraai en ek sien dit heet nou Beyers Naudé, voel ek lus om al die bordjies te gaan verf. Beyers Naudé was die Afrikaanse ekwivalent van Trevor Huddleston: ‘n geestelike wat deur haat en nyd gemotiveer is en feitlik openlik geweld voorgestaan het. Behalwe natuurlik dat Naudé dit boonop teen sy eie mense gepleeg het.

As mense al hul debietorders by die kerke sou kanselleer en eerder aan PRAAG sou oordra, sou ons al gister vry gewees het. Moreletapark se NG Kerk moedig blykbaar swart plakkers aan om Pretoria-Oos territoriaal te kom verower. Dis hoe die kerk vandag politiek bedryf. Met vrome gebede en “naasteliefde” word die arme lidmate om die bos gelei.

‘n Verdere faktor wat verandering hier in die hand kan werk, is finansiële krisis in die noordelike halfrond. Die reeks oorloë wat Amerika en Brittanje sedert die vroeë negentigerjare gevoer het, het honderde miljarde dollar gekos. Albei lande het daardeur hul ook in die wêreld ongewild gemaak.

Voeg daarby die bankbankrotskappe en ‘n mens sien hoe ons eintlik uitgelewer is aan die grille van die ANC se radikale politici en jeugleiers. Dis net ons en die magsdronk, vermetele Nguni-hoofmanne. As die eerste plase gevat word en daar breek etniese konflik in die land uit, gaan Amerika en Brittanje nie troepe stuur nie, selfs al wou hulle. Dis nou weer soos die 1880s toe Kruger die Transvaal se soewereiniteit van Gladstone kon verkry: die Britse openbare mening sal nie nog ‘n oorlog verdra nie, selfs al gaan dit daaroor om hul geliefde ANC aan bewind te hou.

Nou die dag het ek ‘n vrygestelde dokument van die CIA uit 1994 se dae op die internet gevind. Interessant is dat Amerika toe nie militêr wou ingryp nie, al het die CIA gedink daar kom ‘n “regse staatsgreep” in Suid-Afrika! Amerika sal ook nie dié keer regstreeks in ons land ingryp nie, wat ook al gebeur. Ons is te ver, ons het nie olie nie en hulle sal nie hul tipiese lugoorlog kan kom voer sonder om ook swartmense dood te maak nie. Indien daar Afrikanerverset in Pretoria-Oos is en die F-16s los ‘n paar bomme daar, mag hulle Mamelodi tref of ‘n paar swart SEB-ontvangers wat tussen die Afrikaners woon. Dit kan ‘n lelike ding op CNN veroorsaak.

Maar Brittanje is natuurlik al die jare die ANC se vernaamste bondgenoot. Nie verniet het hulle vir Nelson Mandela ‘n standbeeld op hul Parlementsplein opgerig nie. Al die slegte nuus uit Suid-Afrika, Mugabe se manewales, tesame met die Britse onluste van ‘n jaar of wat gelede, het egter ook by die gemiddelde Brit ‘n gesonde skeptisisme jeens die BBC en die Guardian se geloof in “immer onskuldige swartmense” gekweek. Al ons jongmense in Londen versprei insgelyks die nuus oor hoe dit werklik met ons “wonderdemokrasie” gesteld is.

Baie plattelandse dorpe soos Louis Trichardt sukkel met drinkwater of elektrisiteit. Teen die tyd dat die ligte afgaan of jy nie meer drinkwater het nie, kan die tradisionele media se propaganda hóé sterk wees, maar die “bruikbare Afrikaneridioot” begin vir homself dink. Hy begin selfs vrae vra, soos: “Hoekom het net swartes regte?”

Dit bring my by menseregte. Ons staan moontlik op die vooraand van ‘n soort volksmoord wat nog erger as die huidige lae-intensiteitskonflik in die vorm van plaasmoorde en stedelike aanvalle is. Die ANC het egter in sy wysheid besluit om feitlik elke internasionale menseregtekonvensie te onderteken. Oorspronklik is menseregte teen die vorige bewind gebruik om apartheid tot “misdaad teen die mensdom” te verklaar, hoewel die Westerse lande destyds buite stemming gebly het. Afrikaners is ook besig om die menseregtepolitiek te verstaan. PRAAG het dit lankal geëien as een van die dinge wat ons baie hard moet dryf. Daarom is ons besig om by elke internasionale menseregte-organisasie aan te klop en al die gruweldade en diskriminasie teen blankes wêreldkundig te maak: die VN, die Statebond, die EU, Amnestie Internasionaal, Human Rights Watch, Genocide Watch, en nog ander.

Hopelik keer ons so die aanslag teen ons sonder geweld af.

Trouens, die hoof van Genocide Watch, dr. Gregory Stanton, sê op dié organisasie se webwerf dat hy binnekort Suid-Afrika toe kom om inligting oor plaasmoorde en ander menseregteskendings teen Afrikaners ter plaatse in te win.

Van ons PRAAG-medewerkers korrespondeer reeds geruime tyd met hom en dit sou daarom gepas wees om hom te siene te kry.

Persoonlik wil ek nog die ANC – en sommer die DA ook, want hulle pas mos ook regstellende aksie toe – van “apartheid” gaan aankla. Volgens die tweede artikel van die “Konvensie oor die onderdrukking en straf vir die misdaad van apartheid” is dit ‘n internasionale misdaad om “oorheersing van een rassegroep oor ‘n ander te handhaaf en hulle sistematies te onderdruk deur:

a) die reg op lewe of persoonlike vryheid aan ‘n lid of lede van ‘n rassegroep of rassegroepe te weerhou deur:

i) moord op lede van ‘n rassegroep of -groepe;

ii) deur lede van ‘n rassegroep of -groepe ernstige liggaamlike of geestelike leed aan te doen, deur inbreuk te maak op hul vryheid of waardigheid, of om hulle aan foltering of onmenslike, vernederende behandeling of straf te onderwerp;…

b) die opsetlike instelling van lewensomstandighede vir ‘n rassegroep of -groepe wat daarop gemik is om sy vernietiging, ten dele of in die geheel, te veroorsaak.”

Naamsveranderings en Engelse SARS-vorms “doen my geestelike leed aan”.

Maar ernstiger: Daar is nog ander interessante artikels in die Konvensie wat dit nog meer duidelik maak dat die ANC eintlik ‘n vorm van VN-tipe apartheid op ons toepas. Aangesien apartheid ‘n internasionale misdaad is, kan lede van die ANC-bewind in enige land ter wêreld daarvan aangekla word.

Sou dit nie mooi wees as iemand in Swede, wat tesame met die Anglikaanse Kerk destyds die aanslag teen ons befonds het, ‘n klag van apartheid teen die totale ANC-kabinet aanhangig kan maak nie? Ek is seker ek sou van ons Sweedse vriende wat PRAAG twee jaar gelede besoek het, kon oortuig om so iets te doen. Om nie van Nederland, België en vele ander lande te praat nie.

Ek stem saam: apartheid is ‘n misdaad teen die mensdom, veral die tipe wat sedert 1994 teen die blanke rassegroep in Suid-Afrika gepleeg word.

Sluit aan by PRAAG

Олександр Васильович Фільчаков

Maak 'n opvolg-bydrae