Die ondersteuners is aangekeer nadat geweld by ‘n saal in Limpopo uitgebreek het waar pres. Jacob Zuma ‘n lesing moes lewer.
“Hulle was ‘n weerbarstige groep mense wat in die middag reeds begin het om paaie te versper,” het brig. Hangwani Mulaudzi gesê.
Minstens 300 ondersteuners van die geskorste president van die ANC-jeugliga, Julius Malema, het buite die Holy Worship-kerksaal in Thohoyandou saamgekom voordat Zuma opgedaag het.
Die groep, wat liedjies teen Zuma gesing het, was Dinsdagmiddag in ‘n stoeiery met die polisie betrokke toe lede van die liga geweier het om weg van die kerksaal se ingang te beweeg.
“Hulle het om 16:00 die saal binnegegaan waarna die ANC se sekuriteit probeer het om hulle onder beheer te bring en hulle aangerand het,” het Mulaudzi gesê.
Hy het gesê die polisie se hulp is ingeroep om die situasie te ontlont.
“Vyf van die ondersteuners is in ‘n polisiewa gebondel en weggeneem van die saal.
“Hulle is ‘n ernstige waarskuwing gegee om nie weer probleme by die verrigtinge te veroorsaak nie. Hulle het daarna ingestem en is op waarskuwing vrygelaat.”
Mulaudzi kon egter nie sê wat met die sekuriteitsbeamptes gebeur het wat die Malema-ondersteuners aangerand het nie.
Zuma het net na 17:00 begin om sy Nelson Mandela-gedenklesing te lewer.
Geweld het gedurende sy lesing buite die saal steeds voortgegaan.
Mulaudzi sê waterkanonne is gebruik om die skare uiteen te jaag en die situasie is onder beheer gebring.
Zuma se lesing het gehandel oor die nalatenskap van oudpres. Nelson Mandela.
Mac Maharaj, Zuma se woordvoerder, kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.
