VF+-toespraak by Kohesieberaad

Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe het misluk. Vanaf die Kommissie se aanvang het dit niks gedoen om die regte van minderhede en gemeenskappe te bevorder en te beskerm nie. Indien ons ernstig is oor sosiale kohesie en nasiebou, het die tyd geword om ‘n nuwe departement vir minderheidsaangeleenthede te skep. ‘n Toegewyde departement wat ‘n sin van behoort sal vestig en wat daarin sal slaag om die groeiende gevoel van vervreemding, wat tans ervaar word deur minderhede en gemeenskappe, uit te roei.

Die aanhef van ons grondwet sê duidelik: “Ons, die mense van Suid-Afrika, glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.” Dit is ‘n baie sterk stelling. Indien hierdie stelling ernstig opgeneem is, sou ons reeds sosiale kohesie gehad het en sou ons, tot ‘n groot mate, ook geslaag het met nasiebou in Suid-Afrika. Maar, dit is duidelik nie die geval nie. Die blote feit dat ons nodig het om hierdie nasionale beraad oor sosiale kohesie en nasiebou te hê 18 jaar na 1994, is ‘n duidelike aanduiding dat ons gefaal het.

Suid-Afrika is een van die mees diverse gemeenskappe in die wêreld. Ons is ‘n land met baie rasse, kulture, gelowe en tale. Met ‘n verdelende verlede en met verskillende perspektiewe op die geskiedenis. Dit is ook waar dat oor baie eeue ons ekonomies deurvleg geraak het en afhanklik van mekaar. Ons deel almal dieselfde geografiese area in die Suidelike deel van Afrika – naamlik Suid-Afrika. Hierdie is ons gemeenskaplike huis en land. Die mense wat ek verteenwoordig, het geen ander nie. Hulle glo ook in eenheid in diversiteit. Maar dan moet ons diversiteit respekteer en akkommodeer en ophou om net oppervlakkige lippetaal te gebruik. Hierdie land is groot genoeg, met genoegsame potensiaal en geleenthede om vir almal ruimte te laat onder die pragtige Afrika-son. Dit is moontlik, maar dan benodig ons die beste resep vir ware sosiale kohesie en nasiebou. Ons glo dat die huidige resep gefaal het en dit sal aanhou faal want dit beklemtoon net een deel van die waarheid van hierdie land en sy mense.

Ware nasiebou en sosiale kohesie sal nie slaag indien ons bloot voortgaan om van een sporthoogtepunt tot die volgende een te struikel sonder om suksesvol ‘n ware sin van behoort onder al ons mense te skep nie. Dit het begin met die Rugbywêreld-beker in Suid-Afrika in 1995. Daarna was dit die Krieketwêreld-beker in 2003. Kaapstad se onsuksesvolle Olimpiese bod het in 2004 gevolg. Daarna was dit die Fifa Sokkerwêreldbeker in 2010. Elke keer het ons ‘n oplewing van nasionale trots beleef, net om knap daarna weg te kwyn en in die sand te verdwyn. Hierdie kunsmatige proses van nasiebou sal nooit daarin slaag om ‘n langdurige gevoel van behoort en ware nasiebou onder die mense en gemeenskappe binne Suid-Afrika teweeg te bring nie. Daarom was dit so maklik vir Julius Malema om ons gemeenskap totaal te polariseer met sy opruiende stellings. Dit is die rede hoekom ons gesien het wat met ons gemeenskap gebeur het toe die sogenaamde “Spies”-skildery sy verskyning gemaak het. Ons kan soveel sportgebeurtenisse hê as wat ons begeer, maar dit sal nooit ‘n langdurige en volhoubare gevoel van behoort skep en ‘n ware plek vir almal in die son nie.

Suksesvolle sosiale kohesie en nasiebou sal net slaag indien ons regte eenheid in diversiteit het. Dit sal slegs slaag indien dit gevestig word op ‘n “beter lewe vir almal” in die ware sin van die woord. Wanneer “almal” ook minderhede insluit. Wanneer gelyke geleenthede gelyke geleenthede vir almal beteken. Wanneer julle kinders, maar ook myne, weet dat daar nie teen hulle gediskrimineer sal word oor hierdie of daardie rede nie.

Ons almal weet daar is ‘n politieke meerderheid in Suid-Afrika, maar dit is ook waar dat ons oor verskeie minderhede beskik, insluitend politieke minderhede. Mag ek ons almal aan die volgende bepaling in die Vryheidsmanifes herinner:

All National Groups Shall have Equal Rights!

There shall be equal status in the bodies of state, in the courts and in the schools for all national groups and races;

All people shall have equal right to use their own languages, and to develop their own folk culture and customs;

All national groups shall be protected by law against insults to their race and national pride; (Changing names of towns and streets named after my heroes, is an insult to my national pride.)

Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin bly, swart en wit. Wat beteken hierdie “behoort”? Daardie sake wat minderhede affekteer, het ons enige sê daaroor? Op die oomblik is die antwoord nee. Slegs paaibeleid. Ons betaal belastings, maar ons het geen sê oor hoe ons geld aangewend word nie. Ons het geen sê oor naamsveranderinge en oor hoe ons helde beledig word nie.

Die Vryheidsmanifes gaan voort deur te sê dat geen regering billik kan regeer sonder dat dit gebaseer is op die wil van al die mense nie. Nie die wil van die meerderheid nie, maar die wil van AL DIE MENSE… Het minderhede dan geen sê nie?

Ware sosiale kohesie en nasiebou sal slegs slaag indien ons die realiteite van Suid-Afrika aanvaar en daarop bou. Ons minderhede is deel van die realiteite. Die toets vir ‘n ware grondwetlike demokrasie is hoe jy die minderhede en gemeenskappe in die land akkommodeer. Suid-Afrika sal hierdie toets nie ontsnap nie.

Ons het ‘n droom. ‘n Droom om ‘n sterk nasie van gelukkige nasies in Suid-Afrika te bou. ‘n Suid-Afrika bestaande uit gelukkige, vooruitstrewende en vreedsame gemeenskappe, minderhede en mense. ‘n Suid-Afrika waar niemand vervreemd voel van sy/haar geboorteland nie. Waar daar ‘n plek onder hierdie pragtige Afrika-son is vir julle kinders, maar ook vir myne. Dit kan gedoen word.

Данильченко Юрий отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae