Wat het Assange en WikiLeaks reggekry?

Julian Assange probeer tans uit die kloue van die gereg bly en skuil in die Ecuadoriaanse ambassade in Knightsbridge, Londen om uitlewering aan Swede en moontlik die VSA, te ontsnap.

Britse kommentators het intussen op allerlei maniere probeer om Assange swart te smeer. Hulle skuim van woede oor sy swak maniere, selfsug en voorkoms, asof dit kriminele foute verteenwoordig.

Hierdie kritiek vertel meer oor die etniese kudde-instink van Britse meningsvormers as om die geval Assange te belig. Sy prestasie as stigter van WikiLeaks om Amerikaanse diplomatieke kommunikasie te ontbloot, het egter aan mense regoor die wêreld insig verskaf in hoe hul regerings werklik optree.

Sodanige openbare kennis is noodsaaklik omdat kiesers uiteindelik besef wat hulle verteenwoordigers in werklikheid mee doenig is en dit is ongelukkig dikwels nie om kiesers se wense uit te voer nie.

Danksy WikiLeaks, is meer inligting beskikbaar oor wat die VSA en ander state doen en dink as ooit tevore.

Daar was ander voorbeelde in die geskiedenis soos die publikasie van die seëvierende Bolsjewiste in 1917 se geheime verdrae, insluitende planne om dele van die Midde-Ooste aan Brittanje en Frankryk te gee. Dan ook die Pentagon Papers wat danksy Daniel Ellsberg in 1971, die sistematiese verdraaiings deur die Johnson-administrasie oor Vietnam blootgelê het. Op soortgelyke wyse as Assange, is Ellsberg deur die Amerikaanse regering uitgeskel en gedreig met die swaarste straf.

Daar is ook vele ander raaisels en politieke intriges soos die Palestynse leier Jasser Arafat se polonium-vergiftiging wat pas deur ‘n Switserse laboratorium oopgevlek is en die hele argief van Palestynse dokumente wat in Tunisië, selfs nou ná die Arabiese Lente, opgesluit lê. Dié kwessies geniet nie veel aandag by WikiLeaks nie, wat kennelik ‘n ander agenda nastreef.

Wikileaks stel natuurlik net die soort inligting vry wat hulle pas, soos wat die Britse en Amerikaanse regerings, die Palestynse owerhede en elke ander staat en opposisiegroep doen.

‘n Buitengewone aspek van die veldtog teen Assange egter, is dat die joernaliste die grootste vryheid voel om duisende woorde oor sy beweerde foute uit te pomp, maar nooit word melding gemaak van baie meer ernstige internasionale oortredings en misdade wat geopenbaar is deur WikiLeaks nie.

Sulke vergrype is kort daarna gepubliseer in vyf koerante – Die New York Times, The Guardian, Le Monde, Der Spiegel en El País. Niemand het dié koerante aangeval nie, maar Assange persoonlik eerder onder druk geplaas.

Hoofstroom joernaliste lyk kwaad dat hulle professionele gebied binnegeval is deur ‘n Australiese rekenaarbleeksiel, oftewel “nerd”, wat hul werk blykbaar baie beter kan doen. Die Britte veral is natuurlik altyd erg vyandig en venynig teenoor diegene met verskillende kulturele en politieke norme.

Die bewerings van verkragting wat in Swede gemaak is teen Assange, is ernstig. Sulke bewerings van verkragting kan ‘n reputasie vernietig, maar waar nie-bestaande getuienis is, het Britse en Amerikaanse joernaliste tipies in elk geval voortgegaan met karaktermoord.

WikiLeaks se dokumente is uniek en insiggewend oor wat die VSA doen en wat hulle regtig dink van die wêreld waarin ons leef, baie meer as Assange se persoonlikheidstekortkominge. Daar is byvoorbeeld ‘n diplomatieke nota gestuur deur die Amerikaanse ambassade in Kaboel in 2009 wat premier Hamid Karzai as ‘n “paranoïese en swak individu wat onbekend is met die basiese beginsels van nasiebou” beskryf. Nogtans word hy steeds voorgehou as ‘n geloofwaardige vennoot vir die VSA.

Dit is senior en ervare Amerikaanse amptenare wat hul ware mening gee oor die man waarvoor Amerikaners en Britte besig is om te veg én te sterf. 

Die onlangse onderhoud deur Assange met Imran Kahn, die Pakistanse krieketspeler en nou uiters gewilde politikus, is ook verhelderend. Op ‘n stadium verduidelik Kahn hoe Paksitanse leiers deur die VSA omgekoop is om teen hul eie mense op te tree, terwyl hulle skynheilig voorgegee het om hul kiesers se belange te dien.

Dit klink trouens presies soos ‘n analise van Suid-Afrika, waar Afrikanerleiers omgekoop is om teen mede-Afrikaners op te tree om ‘n Afrikanermagsbasis te vernietig, ‘n proses wat steeds voortduur.

Alle regerings geniet in ‘n mate van skynheiligheid om mag te monopoliseer, maar daar moet tog perke wees, soos internasionale regsbeginsels vereis.

Assange en WikiLeaks ontmasker nie diplomatieke terughoudendheid in die belang van die gladde funksionering van die regering nie, maar ontbloot valsheid waarin die grusame dood van honderde duisende mense geregverdig word.

As die staat inligting tot só ‘n mate beheer en die vermoë het om dit na willekeur te manipuleer, maak dit die reg om te stem grootliks betekenisloos. In Suid-Afrika is die voortslepende geweld teen boere maar een so ‘n voorbeeld waar die staat weier om die verskynsel selfs net te erken! Deur dit nie te erken nie, hoef hulle nie op te tree nie. En so sal die ANC ook geen verleentheid vir hul buitelandse ondersteuners skep om die yslike tekortkominge van die reënboognasie te ontbloot nie.

Dit is waarom mense soos Julian Assange so noodsaaklik is vir ons, al het hy en sy ondersteuners ook hul eie agenda. Die diplomatieke notas het die eensydige, en selfvervullende aard van mag en selfs ons veelgeprese “demokrasie” help blootlê.

Александр Фильчаков Васильевич

Maak 'n opvolg-bydrae