Die departement van basiese onderwys in Limpopo en ‘n kontrakteur is aangekla nadat handboeke in die provinsie gestort en vernietig is, het die DA Dinsdag gesê.
Die aanklagte is by die Tzaneen-polisiestasie gelê.
Een aanklag is teen die provinsiale departement van onderwys gebring vir vandalisme en die vernietiging van boeke in Seshego. ‘n Ander aanklag is teen ‘n diensverskaffer gebring wat glo handboeke in Giyani gestort het.
Lt.kol. Ronel Otto het bevestig dat die aanklagte gelê is en sê die saak sal na die polisie in Giyani verwys word.
“Daar is vertroulik aan ons gesê dat minister Angie Motshekga tot nou toe slegs gevra het dat mense wat handboeke naby ‘n rivier in Giyani gestort het in hegtenis geneem moet word, maar geen aanklagte was tot nou toe gelê nie,” het een van die belanghebbendes gesê.
Die boeke is onlangs gestort en vernietig terwyl duisende skole in die provinsie reeds vir sewe maande sonder handboeke is.
