Die dwelmsaak teen David McNamara, ‘n senior Wes-Kaapse regeringsbeampte, is Dinsdag in die Kaapstad-landdroshof uitgestel. McNamara is ‘n senior direkteur van maatskaplike welsynsdienste in die Wes-Kaap.
Hy het versuim om in April in die hof te verskyn waarna ‘n lasbrief uitgereik is. Met die uitreiking van die lasbrief het die landdros gewaarsku dat McNamara in hegtenis geneem sal word indien hy nie by sy volgende hofverskyning teenwoordig is nie.
David McNamara (48) moes in die hof verskyn maar is besig om van ‘n knie-operasie te herstel, het sy prokureur, William Booth, aan die hof gesê.
“Ek is deur die ortopediese chirurg ingelig dat my kliënt tot 31 Julie moet rus. Ons versoek dat sy lasbrief tot dan moet oorstaan.”
Landdros Ingrid Arntsen het die saak uitgestel en die lasbrief vir McNamara se inhegtenisneming laat oorstaan.
