Ingryping in Limpopo saai glo boek-chaos

Pres. Jacob Zuma het Dinsdag met Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, vergader om die laat aflewering van handboeke in Limpopo te bespreek, het die presidensie gesê.

“Minister Motshekga het aan die president gesê daar kon eers in Mei bestellings by die uitgewers geplaas word vir die handboeke,” het Mac Maharaj, woordvoerder vir die presidensie, in ‘n verklaring gesê.

Die rede hiervoor is omdat die Limpopo-onderwysdepartement en vier ander provinsiale departemente onder nasionale administrasie geplaas is.

Dit het die saak “erg gekompliseer”, aangesien daar geen wetgewing is om die ingryping te reguleer nie.

Zuma het die presidensie en die departement van samewerkende regering gevra om dit ‘n prioriteit te maak om die afwesige wetgewing aan te spreek.

Motshekga sê sommige skole het handboeke ontvang en dit was dus nie korrek om te sê geen onderrig is in die provinsie moontlik nie.

Oor berigte dat handboeke gestort is, het Zuma vir Motshekga gesê dit is onaanvaarbaar vir diensverskaffers of amptenare om beperkte en kosbare onderwyshulpbronne soos boeke te vernietig.

Maharaj sê Zuma het die departement van basiese onderwys beveel om die aflewering van handboeke af te handel en om saam met die tesourie en provinsiale regering te werk om seker te maak handboeke word volgende jaar betyds afgelewer.

topcargo кидалы

Maak 'n opvolg-bydrae