“Hy gaan nie uit die land uit nie,” het Anda Bici van Friends of the Youth League gesê, wat verskeie geleenthede gereël het waar Malema in onlangse maande toesprake gelewer het.
“Ons het hom aangeraai om in die land te bly en die stryd hier te stry. Geen oorsese reise nie.”
Die webwerf thesouthafrican.com het vroeër berig dat Malema oor “sy buitengewone lewe” sou praat by ‘n “eksklusiewe netwerk-geleentheid” in Londen.
Hy was veronderstel om insig te gee oor sy ervarings met die ANC en sy gedagtes oor Suid-Afrika se verlede, hede en toekoms te deel.
Die toegangsfooi vir die geleentheid was R260 om na Malema, wat die eregas sou wees, te luister.
Die aanvanklike redes wat gegee is vir die kansellasie was ‘n “familie-noodgeval”.
Malema is in April uit die ANC geskors nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy verdeeldheid in die party gesaai het deur die leierskapstyl van pres. Jacob Zuma gelyk te stel aan dié van oudpres. Thabo Mbeki.
Hy het ook gesê daar moet ‘n bewindsverandering in Botswana plaasvind.
