In reaksie op die ANC se pas afgelope beleidskonferensie in Midrand, is die FW de Klerkstigting besig om sy eie konferensie in Johannesburg op 25 Julie te organiseer waar FW de Klerk, Helen Zille en Kallie Kriel van Afriforum as sprekers sal optree.
Volgens die omsendbrief van die FW de Klerkstigting, wat ‘n hele paar Afrikaanse spelfoute bevat, sal die konferensie die volgende oorweeg:
- die aanbevelings van die onlangse ANC-beleidskonferensie binne die raamwerk van die nasionale demokratiese revolusie
- die ANC se beleidsaanbevelings en die Grondwet
- die implikasies van die voorgestelde ontwikkelingstaat
Die aankondiging volg te midde van intense spekulasie in Afrikanergeledere oor die noue samewerking tussen Afriforum, lid van die Solidariteitbeweging, en die FW de Klerkstigting. Op die vooraand van verlede jaar se munisipale verkiesing het Solidariteit ook sy steun aan mev. Helen Zille se DA toegesê, iets waarop die Vryheidsfront Plus met misnoeë gereageer het.
Dit wil voorkom asof die konferensie sy eie “beleidsaanbevelings” aan die ANC gaan maak. Van die onderwerpe wat bespreek gaan word, is: “grondhervorming, die kwessie van die staat wat private pensioen- en versekeringsfondse gebruik; kultuur- en taalregte en die toekoms van die provinsies.”
Ander sprekers wat tot dusver aangekondig is, is mnr. John Kane-Berman van die Instituut vir Rasseverhoudinge, dr. Leon Louw van die Vryemarkstigting en prof. François Venter, dekaan van die regsfakulteit van die NWU. Prof. Venter was ook ook hoof van die Broederbond tydens die magsoorgawe aan die ANC in die vroeë jare negentig.
Die konferensie word blykbaar by die Johannesburgse Buiteklub in Aucklandpark gehou, wat deur die FW de Klerkstigting “die Johannesburg Land Klub” (sic) genoem word. Die toegangsfooi vir die “voldag konferensie” (sic) is R400.
