Die tradisionele Khoisan-leier, Oom Dawid Kruiper, is Saterdag tydens ‘n staatsbegrafnis in Andriesvale in die Kalahari begrawe.
Die voorsitter van die Boesman-raad, Andries Steenkamp, het die staatsbegrafnis gekritiseer.
“Hierdie is nie die tipe begrafnis wat Oom Dawid sou wou gehad het nie… hy sou verkies het dat die geld op sy veldskool spandeer geword het.” Hy sê dit was Kruiper se laaste wens.
Sowat 3 000 mense het die begrafnis bygewoon, insluitende regeringsamptenare van die Noord-Kaap, tradisionele leiers en vriende van die Khomani San.
Ander tradisionele leiers by die begrafnis was ook bekommerd oor die regering se ingryping.
Paul Swartbooi, ‘n kulturele aktivis en lid van die Bondelswarts-stam, sê die regering het ingemeng deur die begrafnisreëlings oor te neem.
Nietemin sê Swartbooi die begrafnis was ‘n sukses en verskeie tradisionele leiers het tydens die diens ingegryp om Oom Dawid met die nodige waardigheid te begrawe.
“Ons het die verrigtinge op ‘n vreedsame en respekvolle wyse oorgeneem. Die afgevaardigdes van die regering het duidelik nie daarvan gehou nie, maar ons is tevrede met hoe die verrigtinge verloop het.”
‘n Lid van die Khomani San en ‘n vriend van Kruiper, Petrus Vaalbooi, het die afgevaardigdes in sy eie taal toegespreek.
Hy het die regering berispe vir die swak sosiale omstandighede van die Khomani San en vir leë beloftes wat deur die regering aan die Khoi- en San-gemeenskappe gemaak is.
