Obamacare-bevinding kan op Obama boemerang

Barack Obama en sy Withuis-amptenare het verlede week gejubel toe die Amerikaanse Opperste Hof sy wetgewing oor ‘n nasionale gesondheidstelsel bekend as Obamacare as geldig en grondwetlik bevind het, maar die ink was nog nie droog op die hofbevinding nie, toe begin vrae ontstaan of dit wel Obama gaan bevoordeel en of dit nie dalk kwaai op hom gaan boemerang nie.

Daar is twee sterk redes hoekom dit wel kan boemerang: teenstand teen die wetgewing het onmiddellik geweldig toegeneem, met Romney wat sterk kon verklaar dat hy dit op sy eerste dag in die Withuis sal herroep as hy die verkiesing in November wen. En die hof se bevinding dat ‘n strafheffing vir diegene wat nie mediese versekering uitneem nie, ‘n belasting is, het heerlike skietgoed aan die Republikeine gegee dat dit net nog ‘n verhoging in belastings deur Obama is.

Die ingewikkelde Obamacare kom in breë trekke daarop neer dat almal bokant ‘n bepaalde inkomste mediese versekering moet bekom. Indien dit nie gedoen word nie, kan ‘n boeteheffing opgelê word op grond van ‘n glyskaal volgens inkomste. Die skema toon ooreenkomste met die Britte se National Health-skema en kritici bestempel dit as suiwer sosialisme.

Republikeine het uit die staanspoor sterk teen die skema kapsie gemaak en sekere deelstate het ook hofaksies aanhangig gemaak oor sekere bepalings dat fondse van hulle weerhou kan word as hulle die skema nie ten volle instel nie. Dit was hierdie teenstand wat gelei het tot ‘n aansoek tot die Opperste hof (Supreme court) om die wetgewing ongeldig te verklaar. Verlede week het die hof met vyf stemme teen vier bevind dat die wetgewing wel geldig en grondwetlik is, maar slegs indien die boete vir nalating
om versekering uit te neem, as ‘n belasting en nie ‘n boete beskou word. Die staat kan nie vir burgers voorskryf watse mediese dekking hulle moet uitneem nie (net soos hy nie kan voorskryf watse soort kar hy moet koop nie), maar hy kan ‘n belasting hef op mense wat nie versekering uitneem nie. Die hof het verder bevind dat die federale regering nie sekere fondse aan deelstate kan weerhou soos beoog is nie.

Obama en sy ondersteuners het gejubel veral aangesien die meerderheidsbeslissing te danke was aan die stem wat hoofregter John Roberts, ‘n vermeende “konserwatis” en ‘n Bush-aanstelling daarvoor uitgebring het. Die ander vier regters was nogal heftig in hulle mindersheidsmenings dat die wetgewing beslis ongrondwetlik is.

Aan Republikeinse kant was daar teleurstelling en woede oor die bevinding. Maar baie gou het hulle gevind dat die teenstand teen Obamacare so wyd loop – selfs onder Demokrate – dat dit reeds sterk teenkanting teen Obama en steun vir Romney uitgelok het. Romney het die tendens vinnig raakgesien en belowe om die wetgewing te herroep op sy eerste dag in die Withuis as hy die verkiesing wen (en sommige meningspeilings dui daarop dat hy tans voorloop – al is dit nog baie gering).

Obame en kie se breë glimlagte het ook vinnig vervaag toe die dinamiese Sarah Palin (McCain se VP-kandidaat in 2008) daarop gewys het dat Obama aanhoudend beweer het dat die strafheffing nie ‘n belasting is nie, maar die hof se bevinding dat dit net gehef kan word as dit ‘n belasting is, beteken dat Obama gelieg het – ALWEER gelieg het, soos sy dit gestel het. Die Obama-kamp is uiters gevoelig vir bewerings dat hy belastings verhoog en as die heffing ‘n belasting is, bevestig dit net die wye siening dat hy mense net belas en belas.

Meningskrywers het feitlik onmiddellik die vraag begin vra of hoofregter Roberts nie dalk ‘n baie slim en subtiele bevinding gemaak het wat voorkom of hy nie politiek kant kies nie, maar Obama effektief ‘n kishou toegedien het. Ene Mac Slavo skryf: “Initial reports I’m getting are telling me there was a lot more clever going on inside that decision than the initial reaction will indicate. It’s the Obama Tax now.” Hy beweer dat ‘n Withuis-bron bevestig het dat die aspek hulle bekommer.

Slavo bestempel die wetgewing as ‘n ingewikkelde stuk gemors en die hofbevinding het dit net bevestig. Dit gaan die republikeine net aanmoedig en motiveer en kan selfs partylede wat nie baie geesdriftig oor Romney se kandidaatskap was nie, vierkant in sy kamp jaag. Nog meer deelstate gaan ook Obamacare verwerp aangesien die hof hulle eintlik die reg gegee het om dit te doen.

‘n Konserwatiewe regsprofessor, Michael McConnell, het die bevinding van die hof voorspel en dink dit is eintlik beter as wat hy verwag het. Hy wys daarop dat selfs Demokrate in die kongres nie vir die wetgewing sou gestem het as die boeteheffing van die begin af as ‘n belasting bestempel was nie. Hy meld ook dat Obama teen Roberts se aanstelling as hoofregter gekant was en wonder of die regter nie op baie subtiele wyse wraak geneem het nie!

Dit is duidelik dat Obamacare en die hofbevinding in die volgende maande ‘n groot rol in die verkiesingsveldtog gaan speel – en op die oomblik verloop die spel sterk in die guns van die Republikeine.

Александр Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae