ANC se beleidsvoorstelle uitgespel

Donderdagnag was die ANC nog aan die werk om die aanbevelings wat uit die verskillende beleidkommissies gekom het hierdie week in Midrand, te deurtrap.

Hulle moes ‘n stortvloed van inligting wat vrygestel is, verwerk. ‘n Paar van die besluite is egter reeds in beton gegiet, alhoewel sommiges heeltemal onuitvoerbaar bly.

Terwyl kaderontplooiing volgehou sal word, sal die aard van daardie kaders verander. Die nasionale uitvoerende komitee (NUK) sal verminder word van 80 na 60 lede, die grootte wat dit was voor die Polokwane-konferensie.

Nuwe lede sal ses maande van politieke opvoeding moet ondergaan en diens in die gemeenskap doen voor hulle aansoeke sal oorweeg word. Veterane sal gebruik word in die ANC se politieke skole

Die ANC druk ook vir regulasies oor die befondsing van politieke partye, en lede sal moet geld skenk aan die party, wat dit minder afhanklik sal maak van ander bronne van inkomste.

Wat sosiale transformasie betref, het die party aanbeveel dat sekere kulturele praktyke vir die skending van menseregte en moontlik kriminalisering moet ondersoek word. Ukuthwalwa, die ontvoering van bruide – ‘n hoofsaaklik Sotho-gebruik – moet glo ondersoek word.

Die party wil ook twee jaar van “verpligte”, onverpligte nasionale diensplig vir jong mense implementeer. Dié teenstrydigheid het niemand gepla by die werksessie nie.

Ander resolusies sluit in dat sportkwotas gehandhaaf word, en ‘n loonsubsidie ​betaal word, nie aan die jeug nie, maar om die vaardighede van die jeug en werkloses te verbeter.

Plaaslike inhoud vir die TV is geopper, en die Poskantoor moet sy dienste uitbrei, en e-pos aan elke Suid-Afrikaner lewer.

Die ANC wil ‘n vredemaker op die vasteland van Afrika wees, sowel as ‘n belangrike speler wanneer dit kom by internasionale organisasies en hul “transformasie”.

Al die voorstelle moet natuurlik bekragtig word deur Mangaung se elektiewe konferensie voor dit partybeleid word.

Buite die gebou by Gallagher Estate was enige iets wat ‘n ANC-handelsmerk dra – die gesig van Nelson Mandela of vorige leiers, of die woorde van die Vryheidshandves – te koop .

In die parkeerterrein uit die bagasiebakke van luukse motors was die smouse bedrywig. Daar was egter nie T-hemde met die gesigte van Zuma of Motlanthe nie. Rassesolidariteit was die wagwoord buite en geen faksievoortrekkery nie.

CD’s met Dubul ‘ibhunu, muurhorlosies gevorm soos die Afrika-kontinent, jasse en serpe en ander winterkleding, en ‘n groot verskeidenheid van revolusionêre hoede is uitgestal.

топкарго отзыв

Maak 'n opvolg-bydrae