Gewillige koper/verkoper laat vaar

Die beginsel van gewillige koper en verkoper is van die baan. Die staat moet toegelaat word om geskikte grond teen vergoeding te bekom, soos uiteengesit in die Grondwet, het president Jacob Zuma gesê.

“Grondhervorming moet ‘n radikale skuif verteenwoordig … breek met die verlede sonder om landbouproduksie en voedselsekuriteit te ontwrig,” het Zuma gesê aan die ANC-afgevaardigdes by die afsluiting van die party se beleidskonferensie.

“Die konferensie het ook bevestig dat die voorstel van gewillige koper, gewillige verkoper onmiddellik vervang sal word met die regverdige en billike beginsels in die Grondwet – waar die staat grond vir grondhervorming doeleindes wil verkry.”

Minister van landbou Tina Joemat-Pettersson het gesê onteiening sonder vergoeding sal slegs gebeur met grond wat onwettig verkry is.

“Die onteiening wat ons tans het is ongrondwetlik en die Wet moet in ooreenstemming met die Grondwet gebring word,” het sy aan verslaggewers gesê by ANC-konferensie in Midrand.

“Ons hoef nie die Grondwet te verander hiervoor nie. Onteiening sonder vergoeding sal net gebeur wanneer grond onwettig verkry is. Slegs die hof sal bepaal of die grond onwettig verkry is, so daar sal geen arbitrêre onteiening wees nie.”

Sy het gesê die kongres het besluit dat die “gewillige koper, gewillige verkoper” benadering tot die herstel van grondregte laat vaar sal word.

In plaas daarvan sal grondonteiening gedoen word in terme van die “regverdige en billike” vereiste van Artikel 25 van die Grondwet.

Joemat-Pettersson het gesê die artikel is ‘n eiendomsklousule wat “ons in staat sal stel om te doen presies wat ons wil met grond”.

Sy het gesê die konferensie het nie enige doelwitte vir onteiening gestel nie, maar sal eerder wag vir die grond-oudit aan die einde van die jaar om voltooi te word.

Zuma het ook gesê die ANC het voorgestel dat grondeienaarskap aan vroue versnel word. “Dit is gemik op die regstelling van die grondvraag om armoede aan te spreek,” het Zuma gesê.

Hy het gesê die vroue is die grootste groep wat geraak word deur armoede en ongelykheid.

Фильчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae