“Ons ondersteun die demokratisering van Swaziland,” het Zulu aan verslaggewers gesê by die ANC se nasionale konferensie in Midrand, Johannesburg.
Die besluit is ‘n uitvloeisel van die ANC se beleidsamesprekings oor internasionale betrekkinge.
Zulu het gesê die kongres het besluit hulle moet “vorentoe beweeg” met die ontbanning van politieke partye in Swaziland.
Sy het gesê die Suid-Afrikaanse regering wag nog vir Swaziland om ‘n Memorandum van Verstandhouding (MOU) met betrekking tot ‘n lening te teken.
“Die MOU doen ‘n oproep vir die demokratisering en ontbanning van politieke partye,” het sy gesê.
“Swaziland het ingestem om die MOU te onderteken sonder die verwydering van voorwaardes.
Suid-Afrika sal net aan Swaziland die geld leen indien dit tot die voorwaardes ingestem het.”
Die ANC sal saam met sy alliansie-vennoot, Cosatu, aan Swaziland hulp verleen.
Zulu het gesê die ANC het ook erken dat hulle bande met Zanu-PF in Zimbabwe het en gesê hulle sal voortgaan om ‘n verhouding met die land te hê.
Maar hulle sal neutraal bly wanneer dit kom by die hantering van Zimbabwe se verskillende politieke partye.
Zulu het gesê die ANC sal voortgaan om Palestina te ondersteun en gevra vir ‘n wyer boikot teen Israeliese produkte.
Ekonomiese diplomasie is ook bespreek.
“Ons moet verseker ons ekonomie groei, nie net in Suid-Afrika nie, maar in al die SAOG-lande,” het sy gesê.
Oor die Internasionale Strafhof, het Zulu gesê, voel die ANC dat die hof moet ophou om net na Afrika-lande se oortredings te kyk.
“Ons is nie teen die ISH nie, maar die ANC sê daar moet ‘n balans wees,” het Zulu gesê.
Die ANC het ook voortgegaan om lande soos Madagaskar, Soedan, Suid-Soedan en Somalië te ondersteun, maar sal nie troepe na Somalië stuur nie.
