Eskom se pryse gaan verdubbel

Business Report berig dat Eskom-pryse gaan verdubbel. Dié tarief nuwe is byna twee keer soveel as die gemiddelde prys van 50,27 c per kilowatt-uur wat die kragvoorsiener op die oomblik vra.

Eskom wil oor vyf jaar ‘n tarief van 97,51 c per kilowatt-uur vra.

Volgens die berig gaan verbruikers swaar getref word. Kragverbruikers sal dan jaarliks ‘n gemiddeld van omtrent 15% meer oor die volgende vyf jaar moet opdok.

In 2008 was Eskom se tarief 19,40 c per kilowatt-uur.

Eskom moet nog tot 2028 elektrisiteit lewer aan die reuse- Hillside-aluminiumsmelter van BHP Billiton en tot 2026 aan Mozal, BHP Billiton se tweede smelter in Mosambiek, het Sake24 voorheen berig.

Dit blyk uit die beantwoordende verklarings wat Eskom en Billiton by die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg ingedien het in reaksie op die hof­aansoek van Sake24 dat die hof Eskom moet verplig om die prysformule bekend te maak waarteen Billiton elektrisiteit van Eskom koop vir die bedryf van die twee smelters.

Sake24 voer aan dat die smelters se elektrisiteit teen gesubsidieerde pryse gelewer word. Eskom sê in sy antwoord dat dit toekomstige beleggers sal afskrik as die pryse bekend gemaak word.

Hillside betaal 15c/kWh en Mozal 13c, terwyl Eskom se ander grootste kliënte tussen 22c en 29c betaal. Die aluminiumkontrakte is ook nie onderhewig aan tariefverhogings nie.

Die kontrakte duur tot 2028 en 2026. Dit beteken dat die kontrak vir Hillside, wat 1 100 MW verbruik, vir 32 jaar gesluit is. Mozal se kontrak, wat vir 845 MW is, is vir 25 jaar gesluit.

Die twee smelters gebruik gesamentlik 5,68% van Eskom se opwekkingsvermoë.

Die tariewe word bereken volgens verskeie buitefaktore, waaronder die prys van aluminium op die Londense metaalbeurs, maar dit het verlede jaar tot ‘n verlies van R9,5 miljard vir Eskom gelei.

Dr. Konrad von Szcxepanski, visepresident: strategie en bedryfsontwikkeling van Billiton se aluminiumafdeling, sê in ‘n verklaring die prys van alumina, die basiese grondstof waaruit aluminium gesmelt word, en die prys van elektrisiteit is die twee belangrikste koste-faktore in aluminiumproduksie. “Die twee items maak sowat 75% van die prys van aluminium uit,” sê hy.

Volgens hom is die prys waarteen alumina verkry word ‘n goedbewaarde geheim deur produsente van alumina asook aluminiumprodusente.

“Die prys wat produsente vir elektrisiteit betaal, word eweneens nie geopenbaar nie. Daardie kontrakte is op sigself hoogs ingewikkelde ooreenkomste,” sê hy.

As ‘n aluminiumprodusent se elektrisiteitskoste gepubliseer word, sal dit ander rolspelers in die bedryf in staat stel om in groot mate van akkuraatheid sy produksiekoste te bereken. Dit sal dit weer aan die ander rolspelers duidelik maak hoe hy gaan reageer op skommelinge in die pryse op die Londense metaalbeurs.

“Hulle sal byvoorbeeld akkuraat kan bereken teen watter prys dié produsent nie langer winsgewend sal wees nie en sy smelter sal moet afskakel,” sê Von Szcxepanski.

Ontleders meen BHP sal die saak kan vertraag vir die volle kontraktydperk.

Meneer Xolani Mkwanazi is voorsitter van BHP-Biliton Suid-Afrika, asook president van die Suid-Afrikaanse Kamer van Mynwese.

Xolani Mkhwanazi moes volgens wet die kragtariefkontrakte vir Mozal I, Hillside II en Mozal II onderteken het. Mkhwanazi was destyds met die ondertekening van daardie kontrakte die HUB van NERSA.

Ná daardie kontrakte het Mkwanazi as HUB van NERSA in 2004 bedank, en ‘n jaar later het dieselfde Mkwanazi HUB van BHP-Biliton Aluminium Suid-Afrika geword.

Die lys van kontrakondertekenaars behoort dus vir interessante leesstof te sorg.

topcargo

Maak 'n opvolg-bydrae