Die Vryheidsfront Plus is saam met die gemeenskap in die noorde van ons land, geskok met die onlangse vlaag plaasaanvalle wat hier voorkom. Gister se aanval op die Badenhorsts, noord van Pretoria, was die voorloper op die moord van Johan van Rensburg van Baltimore, wie se eggenote kritiek in die hospitaal is. Die Vryheidsfront Plus is van mening dat die owerheid faal in hul plig om wet en orde doeltreffend toe te pas. Wat ook verontrustend is, is dat voedselsekerheid deur plaasaanvalle benadeel word.
Plaasaanvalle behoort as ‘n saak van dringendheid tot prioriteitsmisdaad verklaar te word. Dit sal die polisie in ‘n posisie plaas om doeltreffend op te tree en ook landswyd voorkomende optredes in te stel. Indien die SA Polisiediens nie in staat is om aanvalle op plase stop te sit nie, moet die regering dringend ‘n kommando-stelsel in werking stel, om die aanvalle die hoof te bied.
Die wenslikheid van die herinstel van die doodstraf behoort ook dringend heroorweeg te word. VF Plus Limpopo is van mening dat diegene wat halsmisdade pleeg, hulself van hul grondwetlike regte, waaronder menseregte, ontneem en dus nie op daardie grondwetlike beskerming kan aandring nie.
