Minderheidsgroepe is realiteite van die wêreld waarin ons leef en nasionale en internasionale doktrines en beginsels ontneem die volke, of maak dit ten minste moeilik, om hul selfbeskikkingsreg op te eis. (Seton 1999:2).
Minderheidsvolke is ʼn nie-dominante gedeelte van die samelewing wat poog om hul voormalige territoriale gebiede te herwin en etniese identiteit te onderhou en te ontwikkel om hul voortbestaan as volk te verseker binne die raamwerk van hul kultuur, sosiale instellings en geregtelike stelsels. In hierdie verband kan argumenteer word dat die Afrikaners, ten minste vir die periode van 1948 tot 1994, wel as ʼn volk in ʼn soewereine onafhanklike staat bewoon het en oor hulself regeer het. In die periode was Suid Afrika onder blanke beheer en ook erken as ʼn de jure soewereine staat in die internasionale arena.
Menige wêreld volke is vasgevang in nasiestate. Volgens Seton poog state in die algemeen om die geskiedenis en geografie van volke uit te wis wat hulself binne ʼn nasiestaat bevind. Dit vind plaas deur sogenaamde nasiebou programme gebaseer op politieke, kulturele, territoriale integrasie, ontwikkeling en opleiding en gemeenskaplike of algemene simbole soos vlae en volksliedere. Wanneer state hul beroep op nasiebou, is hulle in werklikheid besig met die vernietiging van volke (Seton 1999:4).
Kontemporêre neigings vir selfbeskikking onderskei tussen interne en eksterne selfbeskikking en suggereer ʼn onderlinge verband. Interne selfbeskikking verwys na politieke en sosiale regte terwyl eksterne selfbeskikking verwys na volle wettige onafhanklikheid van die groter politieke staat.
Volgens Gregan is die beskerming van taal, kultuur, en godsdienstige regte binne ʼn grondwetlik verskanste handves van menseregte, beperkend op die Afrikaner se strewe na selfbeskikking. Die argument kan ontleed word binne die verband dat selfbeskikking nie geselekteerd kan plaasvind nie.
Geselekteerde selfbeskikkingsregte sal die aspirasies van die verskillende kulture in Suid Afrika tot ʼn sekere mate paai, maar die praktiese uitvoerbaarheid daarvan grens aan die onmoontlike. As die vergunning aan een of twee kultuurgroepe toegestaan word sal daar vinnig eise deur ander kultuurgroepe gestel word vir byvoorbeeld ʼn universiteit en skole binne etniese en of taalverband. Selfbeskikking vir Afrikaners sal in ʼn afsonderlike konsititusioneel-staatkundige bestel verwesenlik moet word. Dit kan slegs deur sesessie verkry word. (Gregan 2008:453).
Wetgewing van ʼn staat staan nie noodwendig in die pad van sesessie nie. Daar is reeds aangedui dat die internasionale reg ʼn reg op sesessie sal erken indien sekere faktore aanwesig is soos onderskeidende kultuur, taal, etniese afkoms, onderskeidende gebied, onderdrukking, die feit dat versoening onmoontlik blyk te wees, ensovoorts. Die Afrikaner voldoen aan meeste van hierdie vereistes vir eksterne selfbeskikking, maar ʼn onderskeidende grondgebied ontbreek. (Gregan 1995: 459). Potensiële gebiede is geïdentifiseer maar nie geëis nie.
Enige vorm van interne selfbeskikking sal ook onderhewig wees aan die aanvaarding van die regering se wette en reëls. Met ander woorde regstellende aksie, SEB en grondgryp word ondersteun. Enige eis vir interne selfbeskikking dui dus op aanvaarding van die ANC regering beleid in Suid Afrika. Dit is selfmoord. Hoekom betoog teen bv. plaasmoorde en terselfdertyd deelneem aan selfmoord van die Afrikaner Volk? Hoe kan betoog word teen die verwydering van Afrikaner simbole en terselfdertyd goedkeuring gee vir nasiebou wat ten doel het om volkswaardes te vernietig?
Wat is kulturele selfbeskikking in ʼn nasiestaat? Dit kan nie bestaan nie. Hoe gaan bv. Afrikaner kinders geleer word van die politieke, ekonomiese artistieke en ander aspekte van die Afrikaner kultuur. Intussen word meer skole gedwing om te verengels om in te pas by die nasiebou program van die ANC regering. Die kanse dat Afrikaans as huistaal gaan sterf is onwaarskynlik. Wat wel kommerwekkend is dat Afrikaans stelselmatig verdwyn in die formele samelewing. Dit is egter vanselfsprekend binne konteks van nasiebou. Interne selfbeskikking gaan dit nie laat herlewe binne die nasiestaatkonsep van Suid Afrika nie.
Hoeveel akademici lewer nog artikels in Afrikaans? Wanneer mens navorsingsmateriaal soek vind jy hoofsaaklik net Engelse artikels. Waarom word tesisse, verhandelings en artikels minder en minder in Afrikaans geskryf? Soek geleerdes en outeurs net egoïsties blootstelling in die internasionale mark of wil hulle die NSA beïndruk met hul poging tot nasiebou? Dit is skreiend. Franse, Duitsers, Finne, Chinese en talle ander nasionaliteite skryf hoofsaaklik in hul eie taal. As die artikel noemenswaardige betekenis het word dit vertaal vir wie dit nodig het. Vertaling skep opsigself ander probleme en vind mens dikwels aanhalings in die taal van oorsprong. Elke taal het binne sy spesifieke kultuur ʼn betekenisskeppende aspek. My oproep aan die “taalbulle” is, red die taal waar dit saak maak. Veg vir eksterne selfbeskikking.
In ʼn onafhanklike Afrikaner Republiek sal knelpunte soos hierbo genoem vanself herstel. Die enigste vorm van selfbeskikking is eksterne selfbeskikking. Selfbeskikking word as oppergesag oor ʼn gebied en oor die Afrikaner se eie beskou, enigiets minder word as ʼn negering van die reg op selfbeskikking gesien. Hierdie groep Afrikaners (wat interne selfbeskikking bepleit) sien deelname aan die huidige bestel as ʼn afstanddoening van die reg op eksterne selfbeskikking (Gregan 2008: 458). Die enigste aanvaarbare alternatief is sesessie binne federale verband gebaseer op etnisiteit.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.