Die Suid-Koreaanse lugredery, Korean Air, moes ‘n “rassistiese” advertensie inderhaas van hul webwerf verwyder. Die advertensie verwys na Keniane as “inheemse mense vol van primitiewe energie”.
Die lugdiens het sopas ‘n roete na Kenia aangekondig.
Dié beskrywing het daartoe gelei dat Keniane ontsteld gereageer het. Joernalis Wouter van Cleef, ‘n wit Nederlander, het die eerste keer die betrokke frase geïdentifiseer as “rassisties” en dit via Twitter versprei.
Korean Air het ‘n verskoning uitgereik deur middel van Twitter, en die advertensie is intussen van die webwerf afgehaal. Daar is spekulasie dat die openbare betrekkinge-flater kon gebeur het as ‘n gevolg van die taalhindernisse.
Van Cleef is ‘n Nederlandse vryskutjoernalis in Tokio, Japan. Hy werk vir Trouw (‘n Nederlandse nasionale dagblad) en BNR (‘n landwye Nederlandse radiostasie)
Benewens sy vryskutwerk in Japan, skryf hy oor nuwe ontwikkelings in die internasionale reg, kuberbedreigings en internetbestuur.
