Griekeland sal in die Eurosone bly. Die land se twee hoofpartye wat ten gunste is van ‘n Europese hulppakket en wat in die Eurosone wil bly, het genoeg stemme ingepalm om ‘n regering te vorm.
Antonis Samaras, leier van die Nuwe Demokrasie-party, sê partye wat dieselfde doel voor oë het sal gevra word om ‘n regering van nasionale eenheid te vorm.
Syriza, wat tweede geëindig het, het gesê hulle sal die opposisie lei.
Adj.pres. Kgalema Motlanthe het intussen die ANC en die regering gevra om aandag te gee aan ekonomiese transformasie en ontwikkeling wat op die oomblik in die wêreld plaasvind, het RSG berig.
Die adjunkpresident het Griekeland voorgehou as die Europese land wat die ergste deur die ekonomiese chaos getref is.
Hy sê dit is belangrik dat die regerende party leer uit die wêreldwye ekonomiese uitdagings.
