Die eerste minister van Kenia, Raila Odinga het die toneel besoek van ‘n helikopterongeluk waarin die land se minister van Binnelandse Veiligheid, George Saitoti dood is.
Die ongeluk buite Nairobi het ook die lewens geëis van Saitoti se adjunk en vier ander mense. Dit is nog nie duidelik wat die ongeluk veroorsaak het nie.
Odinga het die ongeluk as ‘n reuse tragedie bestempel. Saitoti, ‘n Amerikaans-opgeleide ekonoom en wiskundige, was een van Kenia se mees sigbare politieke figure.
Hy het verlede jaar aangekondig dat hy hom verkiesbaar gaan stel in die komende presidentsverkiesing in Kenia.
