“Die agenda van die vergadering is privaat en ons lewer nie kommentaar op koerantberigte nie,” het Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, gesê oor Maandag se vergadering.
Die NUK sal byeenkom om voorbereidings vir die party se nasionale beleidkonferensie te bespreek, maar volgens die Sunday Times en die Sunday Independent sal Malema se toekoms ook bespreek word.
Kgalema Motlanthe (adjunkpresident), Matthews Phosa (tesourier-generaal) en Thandi Modise (adjunk-sekretaris-generaal) is nie ten gunste van Malema se skorsing nie, het die Sunday Times berig.
Magdalene Moonsamy, woordvoerder van die Jeugliga, het aan die koerant gesê: “Ons verwag dat die kwessie bespreek en opgelos sal word by Maandag se vergadering.”
Die Sunday Independent het geskryf dat Malema nie baie ondersteuning onder NUK-lede het nie. President Jacob Zuma het die meeste se ondersteuning, het die koerant berig.
Mthembu het gesê die NUK-lede sal op die dag van die vergadering besluit of daar ‘n mediakonferensie gehou sal word of nie. Die vergadering sal in Irene buite Pretoria plaasvind.
