ANC is onverantwoordelik met rasdebatte

Die Goodman-galery en die skildery van agb. president Zuma het die afgelope week tot heftige debatte in Suid-Afrika gelei. Hierdie debatte het meer vertel van die goeie en slegte toestand van verhoudinge in Suid-Afrika as van die skildery.

Enkele voorbeelde: Die Afrikaanse Radio het ‘n uurlange inbelprogram oor die skildery gehad. Tagtig persent van die luisteraars wat ingebel het, het voorgestel dat die skildery dadelik verwyder moet word omdat dit in swak smaak is en aanstoot gee. Meeste van hierdie inbellers was Afrikaans en wit.

In ‘n soortgelyke program oor die Engelse radio het die inbellers vryheid van spraak en verdraagsaamheid beklemtoon. Die deelnemers was gelykop verdeel vir en teen die skildery. Wit en swart inbellers was aan albei kante van die argument.

Dit was vir my opvallend hoe die standpunte vir en teen die skildery nie wit teen swart was nie.

Op hierdie tydstip tree mnr. Gwede Mantashe toe tot die debat. Hy sien dit onmiddellik as ‘n saak van wit teen swart en as rassisme. Dan voeg hy by: “The more black South Africans forgive and forget, the more they get a kick in the teeth.” Wat ‘n onverantwoordelike stelling waarmee hy mense teen mekaar opsweep. Agb Blade Nzimande volg in dieselfde trant, hy gooi ook die rassekaart en skielik kry die debat ‘n ernstige rasse-inhoud wat dit aanvanklik nie was nie.

Mnr. Barend la Grange, wat rooi kruise oor die skildery geverf het, verduidelik dat hy dit gedoen het juis in reaksie op die rasse-argument om as Afrikaner te demonstreer dat hierdie nie ‘n rasse wit swart saak is nie.

Hoekom praat ek hieroor? Omdat ek moeg is daarvoor dat sommige leiers die rassekaart in elke debat gebruik. Dit geld ook vir joernaliste wat nie hulle eie rassevooroordele in rubrieke kan wegsteek nie. Die afgelope drie maande was daar verskeie sulke debatte.

Dit is kort termyn politiek. Dit is lui politiek. Dit is politiek wat mense opsweep sonder om aan die lang termyn gevolge hiervan vir Suid-Afrika te dink.

Dit is Malema politiek. Die skade wat die Malema tydperk aan wit swart verhoudinge gedoen het, kan nog nie bereken word nie. Ek het gehoop die Malema hoofstuk is afgehandel en lê agter ons.

Maar in die koerante is foto’s van die plakkate in gister se ANC optog wat lees: “Whites hate Blacks”. Dit is ‘n natuurlike reaksie van die betogers op mnr. Mantashe se stelling:

“The more black South Africans forgive and forget, the more they get a kick in the teeth.”

A reader wrote in a letter: “Racism – That little word that has become the political whip with which the ANC work the masses up into angry mobs and riots anytime something happens that they don’t like. And it’s becoming really really tiring.”

In hierdie land sal daar altyd wittes en swartes wees. Ek beplan nie om die land te verlaat nie en ek is nie van plan om my deur rassistiese propaganda te laat intimideer nie. Ons kan in konflik en haat saamleef of in harmonie en vrede. Leiers se uitsprake en voorbeeld sal bepaal watter resep van die twee ons gaan volg. Daarom is dit noodsaaklik dat ons leer om van mekaar te verskil en met mekaar te debatteer sonder om telkens agter die rassekaart te skuil.

Hoekom is hierdie politiek so gevaarlik. Omdat dit die politiek van veralgemening is. Alle wittes is rassiste, word gesê. Dit is beslis nie waar nie. Alle wittes is ryk, word gesê. Dit is nie waar nie. Gaan besoek die 70 wit plakkerskampe rondom Pretoria. Alle swartes is korrup. Dit is ook nie waar nie. Hierdie tipe politiek mag kiesers mobiliseer maar sal geen oplossings vir ons probleme bring nie.

In Zimbabwe the MDC secretary for legal affairs said: “Mugabe keeps talking about whites, about the British, about imaginary enemies and conspiracies because he has no answers for the problems created by his own government”

Dit is ‘n ou politieke tegniek. Hitler het die Jode uitgesonder as sondebokke vir alles wat in Duitsland verkeerd was. Ons weet hoe dit geëindig het. Is dit die resep wat hier herhaal word sonder om oor die langtermyn implikasies te dink?

Hoekom praat ek hieroor in die president se begrotingsdebat? Omdat ek glo dat verhoudinge die laaste paar maande in Suid-Afrika versleg het en ons dit nie so kan laat nie. As ek meer tyd gehad het, kon ek nog voorbeeld hiervan noem.

In my toesprake waarsku ek telkens teen veralgemening. Die president het verlede week by Fort Hare gesê “Don’t paint all Africans with the same brush”. Dit is die regte boodskap wat steeds sterker uitgedra moet word. Maar die boodskap moet uitgebrei word na “Don’t paint all White Africans with the same brush”. En “Don’t paint all South Africans with the same brush.” Voor ons SA se armoede, werkloosheid, tekort aan infrastruktuur, swak dienslewering, en ander probleme kan oplos, is dit belangrik dat daar wedersydse vertroue en goeie verhoudinge is. Die huidige klimaat en die onverantwoordelike uitsprake van sekere leiers bereik die teenoorgestelde.

Фильчаков прокуратура харьков

Maak 'n opvolg-bydrae