Grensoorlog was geopolities nie verniet nie

Twee sake in die geskiedenis is seker. Oorloë en militêre konflik maak ontsettend baie saak. En groot impakbesluite word eers aan kiesers of Kongres/Parlement bekend gemaak, nadat die koeël reeds deur die kerk is.

Dit was 1972, tien jaar na die Kubaanse kernmissielkrisis, waartydens die Koue Oorlog tussen die VSA en sy geallieerde Sowjet-vennoot van die Tweede Wêreldoorlog teen Duitsland, byna ge-eskaleer het tot in ‘n volskaalse kernoorlog.

Na die VSA se militêre blokkade van Kuba, het die Sowjet-Unie sy kernmissiele aldaar onttrek, in ruil vir Amerikaanse kernmissielontrekking uit Turkye en Italië.

Die Koue Oorlog se dooiepunt van “Mutual Assured Destruction” het ‘n strategiese deurbraak benodig: Sjina moes noodgedwonge ook industrialiseer om die Sowjet-Unie se mag te neutraliseer.

Na Henry Kissinger se hoogs geheime besoek aan Sjina – die Amerikaanse Kongres het nie daarvan geweet nie – het president Nixon in die openbaar gevolg om die strategiese ooreenkomste met kommunistiese Sjina ekonomies te ontwikkel. Die anti-kommunistiese Amerikaanse publiek – van hulle had al skuilings teen Russiese kernbomme uit Kuba gebou – het by die verrassende verloop ingekoop, en die ongelooflike Sjinese sukses het van Henry Kissinger ‘n gesaghebbende strateeg gemaak, wat die wêreldsituasie en magsbalans verander het.

Terselfdertyd was Suider-Afrika besig om op soewereine stoom te groei na ‘n ekonomiese supermag (soos Sjina van vandag), en dit sonder die Verenigde State van Amerika se bevaarbare rivierverbindings.

Apartheid-Pretoria het ekonomiese integrasie van Suider-Afrika aktief nagestreef. Al die cordon sanitaire-state was van nature geneig om deur middel van tegnologie, produktiewe provinsies sowel as opkomende markte van ‘n magtige Pretoria te word. Soos Duitsland in Europa, was die Republiek van Suid-Afrika letterlik en figuurlik die leidende lokomotief van die Suider-Afrikaanse streek.

Twee oorsese provinsies van Portugal, Angola en Mosambiek, het net soos die vinnig groeiende Westerse Rhodesië by Suid-Afrika se reuse spoor- en kragnetwerk ingeskakel. Een sekuriteitsstelsel vir die Suider-Afrikaanse superstreek het stadig maar seker begin ontwikkel. Mettertyd sou Uhuru en teeninsurgensie-oorloë in Afrika wit Rhodesiers, Portugese, Afrikaners en liberale Engelse tot een Suid-Afrikaanse nasie snoer.

Die oliekrisis van 1973 het verdere dryfkrag verleen aan samewerking tussen die olieryke Angola en energiehonger Suid-Afrika met sy diep myne en reuse smelters, paaie en spoorweë.

Uit die bloute het ‘n bloedlose militêre staatsgreep in 1974 vir Portugal teen 1975 totaal uit Suider-Afrika geboul. Onmiddellik het Portugal die armste staat in Europa geword, terwyl stygende oliepryse weens OPUL-politiek die geweldige groot magsvakuum in Angola verder vergoot het.

Henry Kissinger van die VSA, Fidel Castro van Kuba, sowel as Sjina en Rusland se Politburo’s het almal die uiters strategiese magsvakuum in Angola geopolities-korrek as van kardinale globale belang beskou.

In ‘n Koue-Oorlog-vennotevergadering gedurende 1975 tussen Kissinger van die VSA en Sjina, soos gefasiliteer deur die latere CIA-hoof en VSA-president George Herbert Bush, het beide kante hulle bekommernisse oor, en belange in die Angolese magsvakuum teenoor mekaar gestel.

Ononderhandelbaar vir die VSA: die Sowjet-Unie en sy bondgenoot Kuba mag nie die magsvakuum in Luanda deur middel van die MPLA ten volle vul nie.

Ononderhandelbaar vir Sjina: Suid-Afrika mag nie die magsvakuum in Luanda met ‘n klein militêre besettingsmag ten volle vul nie, want dan sal Pretoria pleks van Beijing vir die hele Suider-Afrika en sy hulpbronne tot by die Kongo beheer, en sal Suider-Afrika pleks van Sjina ‘n globale ekonomiese supermoondheid word.

Sjina se insig was wetenskaplik korrek: Die Sowjet-Unie was nie die grootste gevaar in Angola nie, maar Suid-Afrika, omdat Suid-Afrika deur middel van Suid-Wes-Afrika aan Angola grens en dus logisties goedkoop die geopolitieke magsvakuum in Luanda vir ewig kon bly vul, terwyl die Sowjet-Unie weens duur logistieke kostes nie vir ‘n onbepaalde tydsduur in Angola teen ‘n VSA-gesteunde Suid-Afrika sou kon veg nie.

Sjina is dadelik reg bewys: die Sowjet-Unie het nie met grootskaalse materiaal en manskappe op die magsvakuum in die verre Luanda voor Onafhanklikheidsdag gereageer nie. Terselfdertyd het Suid-Afrika as nabye buurland onmiddellik op die magsvakuum gereageer en voorberei vir die besetting van Luanda, voordat die domino’s val.

Die VSA het Sjina – sy nuwe strategiese Koue-Oorlog vennoot – se nugtere Angolese ontleding egter ter harte geneem, en daarvolgens soos volg aanvaarbaar gehandel. Die VSA se nabye klein aartsvyand Kuba, is sonder verset en vertragings toegelaat om ver oor Amerikaans-beheerde oseane te vlieg en te vaar, om Luanda met duisende manskappe te beset, en alle suidelike brûe na Luanda met spesiale magte ongehinderd op te blaas, om daardeur Pretoria se dolle jaagtog na Luanda voor Onafhanklikheidsdag te kelder.

Globale supermag, en daardeur politieke oorlewing, was op die spel vir beide Sjina sowel as Suid-Afrika, maar slegs vir een. Sjina benodig Suider-Afrikaanse hulpbronne vir supermoondheidstatus, maar as ‘n soewereine Suid-Afrika dit alles sou beheer, sou Sjina nie ‘n volhoubare supermoondheid kon wees nie.

Kommunistiese Sjina was alreeds openlik die VSA se strategiese Koue-Oorlog-vennoot na Nixon se openbare besoek aldaar. PW Botha, Pik Botha en John Vorster had geen rede om Kissinger te glo, dat Suid-Afrika se belange in Afrika voorkeur bo die van kommunistiese Sjina by die VSA sou geniet nie. Die Amerikaanse Kongres kon Kubaanse magte in Angola boonop nog vergewe, Suid-Afrikaanse magte nooit nie. Sou Pretoria besluit om die magsvakuum in Angola te vul om sy eie oorlewing en groei deur middel van die cordon sanitaire te verseker, sou hy die VSA as “vriend” verloor.

Sonder VSA as vriend, sonder Sjina, sonder Europa en die Sowjet-Unie, sou die Republiek van Suid-Afrika genoop wees nie alleen om sy eie kernwapens te bou nie, maar ook om sy eie imperium en ekonomiese handelstreek te vorm: die cordon sanitaire as integrale deel van een Suid-Afrikaanse en Suid-Westerse jurisduksie en geldeenheid, onder beheer van Pretoria.

Botswana sou ingeboks wees, en selfs Zambië deel van die Rhodesies-beheerde gebied. Ook Kabinda en die Kongo sou nie van Suid-Afrikaanse invloed kon ontkom nie.

Of imperiale supermoondheid of niks, met die einde van die cordon sanitaire wat vinnig, en die einde van die Republiek wat stadig, nader. Die Suid-Afrikaanse kabinet moes kies, terwyl Suid-Afrikaanse kiesers soos die Amerikaanse Kongres en kiesers van niks weet nie.

Planne is inderhaas beraam om die moeilike ondemokratiese besluit te probeer ontduik.

топкарго отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae