“Ek het net ‘n bietjie tyd nodig om dit te doen,” het Haffajee gesê.
Die redakteur van City Press het vroeër dapper verklaar: “Ek reageer nie op dreigemente nie.” Intussen het sy stert tussen die bene die aftog geblaas voor die ANC se dreigemente en haar heldhaftigheid van ‘n dag of wat gelede laat vaar.
Julius Malema is intussen ingespan in reaksie op die ANC-sekretaris-generaal, Gwede Mantashe se oproep vir ‘n boikot van die koerant. Malema het gesê ‘n boikot sal nie “demokraties” wees nie.
Hoewel Media24 beweer dat die boikot nie suksesvol was oor die naweek nie, is talle koerante Saterdag en Sondag aan die brand gesteek.
Haffajee is glo bekommerd oor die persoonlike veiligheid van die koerant se verskaffers en joernaliste.
Die verwydering van die beeld van die webwerf voldoen aan die helfte van die ANC se versoek. Hulle wil ook ‘n verskoning van die City Press hê vir die publikasie daarvan in die eerste plek.
Woordvoerder Jackson Mthembu het gesê die party sal voortgaan met die beplande optog na die Goodman Gallery Dinsdag.
“Al wat ons sê, is dat ons hoop mense kan tot die besef kom dat hierdie skildery ‘n belediging is,” sê Mthembu. “As mense nie die pyn wat dit veroorsaak het voel nie, het hulle miskien nie verstaan wat hulle gedoen het nie. Al wat hulle hoef te doen is om te sê dat hulle nou verstaan, dat hulle jammer is en optree soos mense wat jammer is.”
Maar Jackson bevestig dat die party sy boikot teen City Press sal volhou – insluitende die weiering om aan sy joernaliste onderhoude toe te staan - totdat die saak afgehandel is. Die ANC sal ook nie tevrede wees met enigiets kort van ‘n vaste verbintenis van die Goodman Gallery om nie die skildery te vertoon nie, selfs in sy gevandaliseerde vorm. So ‘n toegewing, het hy gesê, sal ‘n belangrike simboliese gebaar wees en moontlik ‘n manier om die vrede te midde van ‘n ontvlambare situasie te bewaar.
