Werkloosheid in Suid-Afrika is ‘n tikkende tydbom en werklose Suid-Afrikaners sal waarskynlik soos jeugdiges in Egipte en Tunisië vir geleenthede veg, het Buti Manamela, nasionale sekretaris van die Jong Kommuniste-liga (JKL), gesê.
“Die behoefte vir werkgeleenthede is meer dringend en die regering moet aandag aan al hierdie dinge gee,” het Manamela Saterdag gesê. Hy het honderde JKL-lede in Seshego, Limpopo, tydens die liga se herdenkingsfeesvieringe toegespreek.
“Ons glo die krisis van werkloosheid is ‘n tikkende tydbom en indien ons dit nie met omsigtigheid hanteer nie, sal ons nog ‘n Egipte en Tunisië sien.”
Hy sê ‘n tekort aan werkgeleenthede het daartoe gelei dat talle jongmense hul waardigheid verloor aangesien hulle nie vir hul families kan sorg nie.
Jeugdiges in Egipte en Tunisië het verlede jaar weens werkloosheid in opstand teen hul regerings gekom.
