ANC moet alle volke erken, nie net Palestyne

Die Vryheidsfront Plus eis dat die ANC-regering en die minister van handel en nywerheid, dr Rob Davies, ook erkenning moet gee aan ander state en hulle produkte in terme van die Wet op Verbruikersbeskerming 68 van 2008 soos wat beoog word vir Palestina en produkte van Palestynse oorsprong.
“Hierdie voorneme om net Palestynse produkte te wil beskerm deur herklassifikasie is duidelik ‘n politieke besluit gekleur met ‘n tipiese anti-Semitiese ondertoon weens die ANC se nou bande met die Arabiese wêreld. Hoewel die ANC-regering wel Palestina as staat erken, is die proses van herklassifisering van Israeliese produkte in terme van artikels 24 en 26 van die Wet op Verbruikersbeskerming, sonder om eers Israel wat ‘n beduidende Midde-Oosterse handelvennoot van Suid Afrika is daarin te ken, minagtend van aard. Die vraag is waarom die ANC-regering nie ook dieselfde vereis van produkte van Tibet en ander de facto state en volkere van die Unrepresented Peoples Organisation nie?” het adv. Anton Alberts, VF Plus parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid gevra.

“Die regering het deur die departement van handel en nywerheid nou vir die tweede keer ekonomiese hulp en beskerming aan ‘n staat van twyfelagtige motiewe gegee; eerstens met die ekonomiese hulppakket aan Kuba wat niks in ruil aan Suid-Afrika bied nie en nou aan Palestina wat hoogstens ‘n twyfelagtige status as staat het weens nie-erkenning deur die VSA, onder andere, en wat die oogmerk het om Israel te vernietig. Dit is trouens ongehoord van die ANC-regering om op hierdie wyse in te meng in die komplekse en sensitiewe vredesproses wat tans aan die ontvou is tussen Israel en Palestina. Daar kan hoogstens net ‘n regverdiging vir hierdie besluit wees indien alle ander de facto state en volkere se produkte op dieselfde wyse beskerm word,” het Alberts voorts gesê.

Die VF Plus gaan ‘n skrywe aan minister Davies in die verband rig om duidelikheid oor die beleid van die ANC-regering hieroor te verkry.

Die Unrepresented Peoples Organisation (UNPO) is ‘n internasionale liggaam gebaseer in Den Haag wat ‘n forum daarstel vir die erkenning van volkere, minderhede en ander groepe wat nie staatlike beskerming geniet nie. Die VF Plus verteenwoordig die Afrikaner op die liggaam.

Фільчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae