“Dit is ongeskik, dis kru, dis minagtend, dis rassisties,” het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, gesê.
Mantashe sê as dit ‘n wit man in die skildery was, sou die reaksie baie anders wees.
Hy sê baie mense dink swart mense is net “objekte.”
“Ek het gesê hoekom gaan ons nie môre hof toe en trek ons broeke daar af nie… ons kan rondloop met ons genitalieë wat uithang… dis kru,” het hy gesê.
Die ANC het Vrydagaand hofdokumente ingedien vir ‘n dringende aansoek om die Goodman-galery en City Press te verbied om die omstrede kunswerk te vertoon of uit te stal.
Jackson Mthembu, ‘n woordvoerder, sê die saak sal Dinsdag in die Johannesburgse hooggeregshof aangehoor word.
“Ons het nog nie in ons 18 jaar rassisme ontgroei nie,” het Mantashe gesê.
Brett Murray se omstrede skildery, The Spear, toon Zuma met sy gulp oop en sy penis blootgestel. Die kunswerk is vir R136 000 by die Goodman-galery in Johannesburg verkoop.
“Die onsmaaklike uitbeelding van president Jacob Zuma… is nie net ‘n persoonlike aanval asook ‘n aanval op die waardigheid en institusionele kantoor van die president van die republiek nie,” het die forum in ‘n verklaring gesê.
“Dit is ook ‘n aanval op die kultuur van die meerderheid; die swart mense van Suid-Afrika. Dit kan nie onverhinderd voortduur nie.”
Die skildery is ‘n “kru poging” om die “wreedheid wat ‘n klein aantal Suid-Afrikaners teenoor ons demokratiese bedeling en teenoor lede van die nasionale leierskap het” te bevorder, het die BMF gesê.
