Volgens brig. Thulani Ngubane het die betoging begin met slegs 150 betogers Sondag.
“Die getal betogers het aangegroei. Daar was teen Maandagmiddag sowat 3 000 betogers wat saamgetrek het,” het hy gesê.
Betogers het paaie afgesper en die polisie met klippe bestook.
Ngubane het gesê die rede vir die betoging is nie bekend nie, aangesien inwoners weier om in gesprek te tree.
“Inwoners het probeer om die kliniek af te brand in Maandag se vroeë oggendure. Gelukkig het die polisie daarin geslaag om die brandende band te verwyder wat hulle binne die kliniek geplaas het.”
Hy het gesê agt winkels wat aan buitelanders behoort is geplunder en drie padskrapers en ‘n karavaan is aan die brand gesteek.
“Niemand is nog in hegtenis geneem nie, aangesien die polisie die situasie, wat nog baie gespanne is, probeer ontlont,” het Ngubane gesê.
Hy het gesê die polisie is van plan om mense in hegtenis te neem as die situasie onder beheer is.
“Geen beserings is nog aangemeld nie en daar is steeds ‘n sterk polisie-teenwoordigheid.”
