Die kunstenaar Brett Murray se omstrede skildery toon Zuma met sy gulp oop en sy penis blootgestel. Dit is vir R136 000 verkoop by die Goodman Galery in Johannesburg.
Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, het gesê die “walglike en ongelukkige voorstelling van die president” is beledigend en die party sal die saak hof toe neem.
“Ons het vanoggend [Donderdagoggend] ons prokureurs opdrag gegee om ons howe te nader om Brett Murray en die Goodman Galery te dwing om die portret uit die galery te verwyder, asook van hul webwerf af en om alle gedrukte promosie-materiaal te vernietig.
“Ons het ook gesien dat hierdie smaaklose en vulgêre portret van die president geplaas is in ‘n naweekkoerant en op sy webwerf. Ons het ons prokureurs ook opdrag gegee om die koerant te vra om die portret van hul webwerf af te haal.”
Murray se “sogenaamde kunswerk” beskadig die beeld en die waardigheid van Zuma as beide president van die ANC, president van die republiek en as mens, het Mthembu gesê.
Die ANC het ook aanstoot geneem van ‘n tweede portret, wat die party se kenteken “sonder die toestemming van die ANC” vertoon, met die inskripsie “FOR SALE” daarop.
“Albei hierdie portrette is ‘n duidelike berekening om die simbole en verteenwoordigers van die ANC, veral die president van die ANC, af te kraak.”
Mthembu het gesê die ANC glo in beide die vryheid van die pers en artistieke uitdrukking, maar beskou “die vulgêre portret en die afkraking van die ANC-kenteken deur Brett Murray as ‘n misbruik van die vryheid van artistieke uitdrukking en ‘n akute oortreding van ons grondwet, buiten dat dit lasterlik is”.
“Dit is hoekom ons ons prokureurs opdrag gegee het om die howe te nader – in die lig van hierdie oortredings en die lasterlike aard van die sogenaamde President Zuma-portret met die titel The Spear,” het hy gesê.
